Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frans reg vir herontmoeting met Leeus

Wanneer Frans Steyn terugdink aan die Britse en Ierse Leeus se vorige besoek aan Suid-Afrika, is die eerste ding wat hy onthou die menigte toeskouers op die paviljoene wat in rooi getooi is.

Loftus Versfeld in 2009 in ’n see van rooi getooi. Foto: Getty Images

Steyn was heelagter in die eerste twee toetse waarmee die Springbok-rugbyspan die reeks van drie toetse van 2009 beklink het.

“Ek onthou die vol stadions. Als was rooi, dit het meer gevoel soos ’n wedstryd in Engeland,” sê Steyn.

Hy onthou ook die warm weer het hulle darem in die tawwe reeks teen Paul O’Connel se toerspan gehelp.

Die demografie in die paviljoene sal op dié komende Leeus-toer heelwat anders daaruit sien nadat Covid-19 die wêreld verlede jaar op sy kop gekeer het.

Hoewel Steyn al baie in sy loopbaan bereik het en met twee Wêreldbeker-wennersmedaljes spog, kyk hy met dieselfde oë na ’n Leeus-toer as enige belowende speler wat daarvan droom om in so ’n spesiale reeks te speel.

“Dis iets wat net een keer elke 12 jaar gebeur.”

Steyn (33) maak nie ’n geheim daarvan dat hy graag weer teen die Leeus wil speel nie, maar voeg dadelik by dat “die span nog nie gekies is nie”.

Frans Steyn in aksie in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in 2009 op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Hy was vandeesweek saam met Rosko Specman die Cheetah-spelers waarmee die Bok-breier, Jacques Nienaber, en sy gevolg Woensdag met hul belyningskamp in Bloemfontein ’n woordjie mee wou hê.

Is hy reg as daar weer op sy knoppie gedruk word?

“Ja, ja, ons sal ons beste lewer.”

Die Cheetahs gaan intussen nie in die reeks om die Reënboogbeker in aksie wees nie en dit is nie seker wanneer hulle weer wedstryde gaan speel nie.

Vroeër was daar sprake dat een van die sogenaamde groot vier spanne die veelsydige Steyn dalk as ’n leenspeler kan aanwend om hom skerp te hou. Dit is nie vandeesweek weer aangeroer nie.

Steyn voel nietemin hy het in die Superrugby Unlocked-, die Curriebeker- en die afgelope voorbereidingsreeks darem heelparty wedstryde agter die blad.

Steyn het veral met sy uiters akkurate stelskopwerk vir die Vrystaters beïndruk.

Nienaber sou ook kennis geneem het van die baie langafstandpogings wat hy sonder moeite deur die pale gejaag het, wat herinner het aan sy monsterskop wat hy in 2009 teen die Leeus net voor rustyd in die Loftus-toets gesool het.

Meer oor:  Cheetahs  |  Frans Steyn  |  ;Eeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.