Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Droom om vir VS te speel, word waar
Frans Steyn in sy Vrystaat-trui in die Toyota-stadion vandeesweek..Foto: Verskaf

Dit was nog altyd sy droom om vir die Vrystaat te speel, het die tweemalige Wêreldbeker-wenner Frans Steyn Vrydag tydens ’n Zoom-onderhoud erken.

Die groot afwagting oor sy koms het vandeesweek tot ’n einde gekom toe Steyn (32) hom amptelik by die Vrystaat-Cheetahs aangesluit het en hy lyk omtrent opgewonde om weer by die “huis” te kan wees.

“Vra maar vir almal wat my ken, dit was nog altyd my droom om vir die Vrystaat te speel en nou kry ek die geleentheid. Ek sien ook baie na daarna uit om in die Pro14-reeks te kan speel.

Vra maar vir almal wat my ken, dit was nog altyd my droom om vir die Vrystaat te speel.
Frans Steyn

“Ruan (Pienaar) het vir my gesê dis ’n goeie kompetisie en ek sien uit daarna om ’n sukses daarvan te maak saam met die Cheetahs,” sê Steyn.

Hy het hom net soos Pienaar, vanaf Montpellier in Frankryk, by die Cheetahs aangesluit. Nog twee Vrystaters, die gewese Springbok-haker Bismarck du Plessis en die veelsydige agterspeler Johan Goosen, speel tans vir Montpellier.

Bismarck du Plessis in die kleure van die Franse klub Montpellier. Foto: Getty Images

Goosen (27) het ook al gesê hy sal graag vir die Cheetahs wil speel as sy kontrak in Frankryk (volgende jaar) verstryk, terwyl Du Plessis (35) onlangs weer sy kontrak met die Franse spogklub vir ’n verdere twee jaar hernieu het.

Toe Steyn gevra is hoe dit sou voel om saam met Pienaar en Goosen vir die Vrystaat te kon speel, het hy geantwoord: “Ek is tevrede met waar ek op die oomblik is. Onthou, supersterre in ’n span maak nie altyd dat ’n span wen nie. Maar ja, dit sal regtig lekker wees as ons saam hier kan speel.”

Oor sy vorige suksesse op die rugbyveld saam met verskeie spanne, is Steyn baie beskeie.

“Ek het altyd gedink dit is die spangees wat ’n span suksesvol maak.”

Op 32-jarige ouderdom het hy nog net soveel lewenslus soos toe hy destyds as jongeling die Vrystaat vir Durban (Haaie) verruil het.

Daar het hy onder andere saam met Butch James (voormalige Springbok-losskakel) gespeel. Hy beskou James as een van sy mentors, ’n rol wat hy nou self vir die jonger spelers by die Cheetahs wil vertolk.

“Ek sal graag die jonger spelers wil help, sonder twyfel. As hulle kan leer uit die foute wat ek (op die veld) gemaak het, dan sal dit goed wees, so ek sien uit daarna om my kennis met hulle te deel.”

En is daar iets wat Cheetah-ondersteuners van Frans Steyn behoort te weet?

Ek is ’n oop boek. Ek sê mos maar wat ek wil sê en dit is hoekom ek soms in die moeilikheid is.
Frans Steyn

“Ag nee wat, wat hulle sien, is wat hulle kry. Ek is ’n oop boek. Ek sê mos maar wat ek wil sê en dit is hoekom ek soms in die moeilikheid is.”

Hy skerts hoeka die eerste ding wat hy geëet met sy terugkoms uit Frankryk toe hy in kwarantyn in ’n Johannesburgse hotel langs die “highway” gebly het, baked beans was.

“Maar toe ek by die huis kom, het ek dadelik in die vrieskas gaan krap en gesoek na ’n ou Wagyu-steak wat daar iewers was.”

Meer oor:  Frans Steyn  |  Ruan Pienaar  |  Vrystaat  |  Bloemfontein  |  Springbok  |  Wereldbekerwenner  |  Agterspeler  |  Rugby  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.