Frans Steyn is in die visier van die Bulle om as ’n leenspeler van die Cheetahs na Loftus Versfeld te verhuis.
Die baie belowende Junior Pokomela kan ook as ’n leenspeler Bloemfontein verlaat.

Frans Steyn. Foto: Gallo Images
Albei spelers van die Cheetahs is op die radar van ander unies nadat die Cheetahs hul plek in die nuwe vergrote Pro16-reeks verloor het en in 2021 in ’n swakker kompetisie om die SA Beker sal speel.
Rapport is bewus van minstens die Bulle se belangstelling om die 33-jarige Steyn – mits hy, die Cheetahs en SA Rugby instem – te leen vir die Pro16, wat in Maart begin. SA Rugby se jawoord word benodig omdat Steyn soos Pokomela ook ’n nasionale kontrak het.
Die Pro16 kan straks Steyn se enigste pad na die Bok-span wees met die oog op volgende jaar se besoek van die Britse en Ierse Leeus, omdat die gehalte van 2021 se SA Bekertoernooi in die afwesigheid van die Bulle, Leeus, Haaie en Stormers se topspelers bevraagteken sal word.
Die Cheetahs meen wel dis nog heeltemal te vroeg is om te bespiegel of hulle bereid sal wees om ’n speler soos Steyn aan ’n Pro16-span te leen.
Die 23-jarige Pokomela trek nie net plaaslik aandag nie, maar selfs oorsese klubs toon belangstelling in hom.
Hy en Steyn was juis saam met Luan de Bruin, Rosko Specman en Malcolm Jaer die Vrystaters wat vroeër vanjaar deur die Springbok-afrigters genooi is om in die stryd tussen Groen en Goud in die Kaap te speel.
Om hul Bok-drome lewend te hou, kan dit beteken dat Steyn-hulle tydens die SA Bekertoernooi aan Pro16-spanne geleen word.
Rapport verneem egter ’n groot moontlikheid bestaan dat die Bulle, Leeus, Stormers en Haaie noodgedwonge amateurspelers tydens die SA Bekertoernooi moet kies omdat dit met die Pro16, die Varsitybekerreeks en die nasionale o.20-liga sal oorvleuel.
Suid-Afrikaanse unies word boonop net toegelaat om 45 senior professionele spelers te kontrakteer. Dit beteken dat hulle amateurspelers, of dan klubspelers, sal moet kies om hul spanne vir die SA Bekertoernooi vol te maak.
Die topspanne praat daarom tans met SA Rugby oor die moontlikheid om meer as 45 spelers te kontrakteer weens 2021 se besige rugbykalender.
Die Cheetahs moet vir volgende jaar se Curriebeker kwalifiseer en kan daarom Steyn-hulle wil behou.