Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frans Steyn wil huis toe na die Vrystaat

Frans Steyn kan hom binnekort in die rol van die spreekwoordelike verlore seun bevind wat terugkeer na die Cheetahs se rugbykamp.

Steyn is volgens Rapport se inligting gretig om sy rugbyloopbaan by die Cheetahs af te sluit, wat beteken dat hy moontlik nee sal sê vir ’n verlenging van sy kontrak by die Franse klubspan Montpellier.

Francois Steyn, Montpellier se nr. 15, span sy skopskoen in in die wedstryd teen Stade Toulouse op 23 Februarie in die Ernest Wallon-stadion in Toulouse, Frankryk. Foto: Tim Clayton/Corbis via Getty

Na verneem word wil die Franse klubspan die 31-jarige Steyn tot 2022 behou. Hy is al sedert 2016 ’n lid van Montpellier se spelerskorps.

Volgens Rapport se inligting is Steyn baie gelukkig by sy Franse klubspan en is hy ook baie dankbaar vir die gesindheid van die klub teenoor hom – veral oor wat hulle sedert 2016 van die speelveld af vir hom doen.

Steyn, wat op Grey-kollege in Bloemfontein op skool was, het ná skool nooit die Vrystaat of die Cheetahs in senior rugby verteenwoordig nie, hoewel hy vir die Vrystaatse Cravenweek-span en die Vrystaatse junior spanne gespeel het.

Hy het hom in 2006 by die Haaie aangesluit en toe, nog maar net 19 jaar oud, die swart-en-wit Curriebeker-trui oor sy kop getrek. In daardie selfde jaar, en nog nie 20 nie, het hy ook saam met die Springbokke na die Noordelike Halfrond getoer.

Die voormalige Grey-sterspeler het intussen vir hom ’n huis in Bloemfontein gekoop, wat sprake versterk dat hy hom by die Cheetahs sal aansluit ná sy terugkeer na Suid-Afrika.

Steyn is weens sy veelsydigheid deur die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, geoormerk om deel te wees van die Springbokke se Wêreldbekergroep vir vanjaar se toernooi in Japan.

Franco Smith, die Cheetahs se breier, sal die veelsydige Steyn se moontlike terugkeer na die Bloemfontein verwelkom.

Ook Toyota, die Vrystaat-Cheetahs se borg, wat die week bevestig het dat hulle die Cheetahs se borgskap van sowat R30 miljoen per jaar vir nog drie jaar verleng het, sal ingenome wees as Steyn wel na die Vrystaters terugkeer.

Hy is ’n hoëprofielspeler wat belangstelling sal lok. Steyn is steeds ’n wedstrydwenner, iets waaraan Smith se agterlyn te kort skiet en verwelkom sal word.

* Nog ’n oud-Vrystater, Niel Marais, het ook planne om weer ’n Cheetah te word. Dít kan onder meer afhang of die senter Nico Lee ná die Curriebeker aanbly of nie.

Die 23-jarige Henry Immelman, ook ’n oud-Vrystater en een van Steyn se huidige spanmaats, het intussen sy kontrak met Montpellier tot 2021 verleng.

Meer oor:  Bokke  |  Montpellier  |  Cheetahs  |  Frans Steyn  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.