Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frans Steyn weer ’n Bok?

Frans Steyn en Bismarck du Plessis kan die twee hase wees wat Allister Coetzee uit die hoed gaan pluk wanneer die Springbok-groep vir die drie toetse teen Frankryk in Junie aangewys word.

Byna vyf jaar sedert hy sy laaste toets in September 2012 vir die Springbokke se toetsspan gespeel het, is Steyn bestem om ’n terugkeer tot toetsrugby te maak.

Die Suid-Afrikaners Jannie du Plessis (links), Frans Steyn (middel) en Bismarck du Plessis nadat hul span, Montpellier, verlede jaar die Europese Uitdaagbeker verower het. Twee van dié drietal is nou deel van Allister Coetzee se Bok-planne. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het volgens Rapport se inligting reeds ’n skrywe aan sy Franse klubspan, Montpellier, gerig om sy beskikbaarheid vir die Bokke te bevestig. Saru vra in sy skrywe vir die vrystelling van Steyn om toetsrugby te speel. Die Junie-toetse val in Wêreldrugby se toets-vensterperiode, wat klubs verplig om spelers vir internasionale verpligtinge vry te stel.

Du Plessis is ’n spanmaat van Steyn by Montpellier, wat deur die voormalige Springbok-afrigter Jake White gebrei word. Die 32-jarige Du Plessis se Springbok-loopbaan het oor en verby gelyk met Adriaan Strauss wat verlede jaar as haker en kaptein die nr. 2-trui oorgeneem het, maar die aanduidings is dat Du Plessis ’n tweede Bok-lewe gegun gaan word.

As alles gunstig verloop, sal die 29-jarige Steyn op 10 Junie in Pretoria in sy 54ste toets speel. Buiten vir sy lang onderbreking van vyf jaar as toetsspeler – Gerrie Sonnekus se tien jaar vanaf 1974 tot 1984 is waarskynlik die rekord vir die langste tydperk tussen toetse – het Steyn ook in vier verskillende posisies in die agterlyn die Bokke verteenwoordig.

Steyn se terugkeer tot die Bokspan sal ook ’n einde maak aan sy 'ballingskap'.

Hy het in 26 van sy 54 toetse op senter uitgedraf, 19 keer as heelagter begin, vyf keer as losskakel en twee keer as vleuel. Steyn het ’n wenrekord van 72% in die Bok-trui. Hy was ook lid van die Bokke se Wêreldbekerspanne in 2007 en 2011. Hy het weliswaar in 2014 die Springbok-trui teen die Wêreldspan op Nuweland gedra, maar die wedstryd word nie as ’n toets erken nie.

Rapport verneem dat Steyn se kwaliteite as ’n kragtige baldraer en vreeslose verdediger, tesame met sy skopvernuf, die Bokke se nuwe aanslag goed sal aanvul en hy daarom terug in die Boktrui sal wees.

Die nuwe aanslag behels dat die spelers balbesit veel beter as verlede jaar wil beskerm en minder doelloos sal wegskop.

Steyn se terugkeer tot die Bokspan sal ook ’n einde maak aan sy “ballingskap” nadat hy homself tydens die Springbokke se voorbereiding vir die toets in Durban teen Wallis in 2014 uit eie wil uit die groep onttrek het.

Die destydse geskil het oor eksklusiewe TV-uitsaairegte gegaan en Steyn het destyds die Springbok-kamp op sy eie versoek verlaat nadat geen ooreenkoms oor die regte bereik kon word nie. Hy het destyds gesê hy het tyd nodig om oor sy toekoms as Springbok na te dink.

Heyneke Meyer het as die Bokke se afrigter twee keer probeer om Steyn by sy Springbok-groepe te betrek. Die eerste was teen Wallis in 2014 en toe weer in 2015. Steyn het hom onbeskikbaar gestel weens die skielike dood van sy broer.

Steyn en Du Plessis kan die aantal oorsese spelers in Coetzee se Bokgroep groter maak as wat aanvanklik gesê is.

Buiten Steyn en die een Du Plessis-broer is Duane Vermeulen, Francois Louw en Francois Hougaard glo almal sterk in die prentjie om in die toetse teen Frankryk te verskyn.

  • Vermeulen kan in die toetse as 7-flank gekies word nadat hy hoofsaaklik as agtsteman die Bok-trui gedra het. Indien Vermeulen na 7 uitskuif, is Warren Whiteley straks in die binnebaan om die Bokke in die toetse te lei.
  • Jano Vermaak is glo nog ’n speler wat aanklank sal vind by die Bokke se nuwe manier van speel. Hy is glo in die binnebaan om die Bokke se skrumskakel te wees.
  • ’n Vyfde verandering word aan die Bok-bestuurspan verwag met ’n nuwe tegniese ontleder wat in die plek van Willie Maree aangestel gaan word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.