Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franse gee Engelse erg sooibrand
Franse vreugde! Die Hane se inspirende kaptein, Charles OIlivon, op pad doellyn toe met die Engelse skrumskakel Ben Youngs te laat om te keer. Foto: Getty Images

Die Engelse rugbyspan dra steeds swaar aan die letsels van verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd teen die Springbokke in Japan, toe hulle met 32-12 gefolter is.

Dít het Sondag in Parys soos ’n seer oog uitgestaan toe ’n Franse span, wat vol opwindende jongelinge was, die Rose met 24-17 in die Sesnasies-reeks geklop het nadat die Hane rustyd reeds met 17-0 voor was.

Die Engelse was voor rustyd planloos en het male sonder tal besit verloor nadat hulle fase ná fase afgedwing het, maar niks daarvoor kon wys nie.

Ná rustyd, veral in die laaste 20 minute toe die plaasvervangers ’n verskil gemaak het, het dit darem beter gegaan.

Nogtans het dit hulle 215 minute sedert die tweede minuut van die WB-halfeindstryd teen die All Blacks geneem om weer ’n drie te druk toe die vleuel Jonny May twee drieë binne agt minute gedruk het.

Maar net soos in Jokohama, toe Faf de Klerk die spil van die Bokke se agterspel was, het die jong Antoine Dupont die Engelse met sy puik taktiese skopwerk en opskietverdediging eindelose probleme besorg.

Voor die wedstryd het die Engelse afrigter, Eddie Jones, gesê hy dat van Engeland die beste span in die geskiedenis van rugby wil maak, maar hy het sekerlik daarvan vergeet om die droompraatjies aan sy spelers oor te dra.

Jones het ook ’n brutale aanslag van sy span verwag teen ’n onervare Franse span, wat met ’n gemiddelde van net tien toetse per speler gespog het.

Maar die Franse het nie die ander wang gedraai nie, hulle het vreesloos verdedig en die kanse gebruik wat na hulle kant toe gekom het.

Hulle het die Engelse die eerste keer sedert 1998 daarvan weerhou om punte voor rustyd in ’n Sesnasies-wedstryd aan te teken.

Boonop is Jones se stampkarsenter Manu Tuilagi ná net 24 minute beseer en sy proefnemings met die heelagter George Furbank en Tom Curry op agtsteman het nie dividende gelewer nie.

Dan kon die Engelse kaptein, Owen Farrell, nie sy span aanvuur nie. Jones se volgehoue beheptheid met die skakelpaar George Ford en Ben Youngs, het weer dadels opgelewer.

Daarteenoor het Dupont, Romain Ntamack, Virimi Vakatawa, Charles Ollivon en Gregory Aldritt gedy en die Engelse vir 60 minute in byna al die fasette oorhoops gehad.

Dit het soms aan Franse spanne van weleer laat herinner, wat met passie gespeel het en dalk, net dalk, het die nuwe afrigter, Fabien Galthie, die wenresep herontdek wat so lank ontbreek het

* Puntemakers: Frankryk 24 (17): Driee: Vincent Rattez, Charles Ollivon (2). Doelskoppe: Romain Ntamack (3). Strafdoel: Ntamack.

Engeland 17 (0): Drieë: Jonny May (2). Doelskoppe: Owen Farrell (2). Strafdoel: Farrell.

* Saterdag in Cardiff het Wallis se nuwe afrigter, Wayne Pivac, van oor tot oor geglimlag toe die Rooi Drake vyf drieë gedruk het om Italië met 42-0 af te ransel.

Vir Italië se nuwe afrigter, Franco Smith, was dit ’n nagmerrie-begin en sal hy terug moet tekenbord toe om die Italianers van verdere vernedering te red.

* In Dublin was die Ierse losskakel Johny Sexton weer sy span se held toe hy al 19 punte (’n drie, doelskop en vier strafdoele) aangeteken het.

Die Iere het Skotland met 19-12 geklop, maar nie een van die twee spanne het werklik oortuig nie. – Sportredaksie, rugby365.com

Meer oor:  Parys  |  Frankryk  |  Eddie Jones  |  Engeland  |  Sesnasies  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.