Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Franse kort buitelandse breier'

Franse rugbybase moet hul trots sluk en ’n buitelandse afrigter aanstel as die Hane weer onder die beste spanne ter wêreld wil tel, sê Sean Fitzpatrick, voormalige All Black-haker.

SuperSport berig Fitzpatrick (55) sê dit is nie toevallig dat die topvier-spanne in die wêreld deur die beste breiers afgerig word en dat drie van hulle buitelanders is – Ierland se Nieu-Seelander Joe Schmidt, Engeland se Aussie Eddie Jones en Wallis se Kiwi Warren Gatland.

Sean Fitzpatrick sê hy is ’n groot aanhanger van die Hane. Foto: Getty Images

“As die All Blacks glo hulle beskik nie oor die beste Nieu-Seeland-gebore afrigter in die wêreld nie, sal hul elders kyk,” sê Fitzpatrick.

“Wie sou ooit kon raai dat Engeland ’n Aussie sou aanstel om hul nasionale span te brei, maar hulle was braaf en die beste man wat hulle kon vir die pos gekry.

“Ek besef die Franse het gesê hulle sal dit nooit oorweeg nie, maar hulle moet dieselfde doen (as Engeland en ander).

“Ek ken nie (Jacques) Brunel nie en ek probeer hom nie slegsê nie, maar iets is fout.”

Fitzpatrick, ’n Wêreldbekerwenner in 1987 en kaptein van die All Black-span wat in die eindstryd in 1995 teen die Springbokke verloor het, sê die beste spanne in die wêreld – Nieu-Seeland, Ierland en Wallis – se sukses kan toegeskryf word aan die korrekte strukture met sentrale kontrakte vir nasionale spelers.

Volgens hom het Engeland deels sy probleme suksesvol opgelos wat betref die kwessie met klubs en hul spelers se beskikbaarheid vir die nasionale span, maar Frankryk is ’n ander storie.

“Ek praat as ’n buitestander, maar ek is ’n passievolle Franse ondersteuner soos baie ander mense,” sê Fitzpatrick, omgekrap deur die Hane se vernederende nederlaag met 8-44 teen Engeland in die Sesnasiesreeks vroeër vandeesmaand.

“Die wyse waarop hulle in hul Sesnasieswedstryd in die eerste helfte teen Wallis gespeel het (Frankryk was teen rustyd met 16-0 voor, voordat hy die kragmeting met 19-24 verloor het), sjoe, geen span kan so skouspelagtig vertoon op die veld nie.

“Maar dan reis hulle na Twickenham en dit is baie hartseer, dit is nie hoe dit moet wees nie.”

Fitzpatrick meen Nieu-Seeland se plaaslike spanne se klem op plaaslike talent sorg dat die All Blacks die beste span ter wêreld is, terwyl die Franse Top-14-liga ’n magneet is vir buitelanders en wemel met spelers wat nie kwalifiseer om vir die Hane uit te draf nie.

“Hulle beskik oor genoeg talent om te wen, maar hulle moet in die spieël kyk en vra ‘waarom het ons al hierdie oorsese spelers nodig?’

“Dit is klub teen land en dit is ’n groot kwessie omdat die klubs voor die land in die tou staan omdat hulle die spelers besit.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Toetsrugby  |  Sean Fitzpatrick  |  Hane  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.