Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franse rugby-revolusie vorder verder
Die Franse senter Virimi Vakatawa druk Sondagaand sy drie in die Nasiesbeker-wedstryd teen Skotland op Murrayfield. Foto: Reuters

’n Kalm meedoënloosheid is besig om in Frankryk se rugby gevestig te word.

Moet egter nie dink dít oordonder die Franse flair nie. Hoegenaamd nie. Kyk maar net na die senter Virimi Vakatawa se drie in hul Nasiesbeker-wedstryd Sondagaand teen Skotland op Murrayfield.

’n Puik beweging en ’n oomblik van briljantheid vanaf ’n vaste faset het aanleiding tot daardie drie gegee – die enigste vyfpunter in die Franse se oorwinning met 22-15.

Maar daar was nie soveel oorywerige oomblikke soos ’n mens oor die laaste dekades van die Franse gewoond geraak het nie. Die losskakel, Matthieu Jalibert, het wel ’n dwase dwarsskop gepoog met die Franse op die aanval op die Skotte se doellyn, maar ter verdediging het hy gedink hulle speel onder voordeel.

Buiten daarvoor was die Hane koel en berekend, iets wat al meer duidelik in hul spel blyk nadat die Franse legende Fabien Galthié as hoofafrigter oorgeneem het.

Buiten daarvoor was die Hane koel en berekend, iets wat al meer duidelik in hul spel blyk nadat die Franse legende Fabien Galthié as hoofafrigter oorgeneem het.

Hulle het nou sewe van hul agt wedstryde vanjaar gewen – die enigste glipsie was in Maart teen die einste Skotte in die Sesnasiesreeks.

Die Hane is skielik meer klinies en vat hul punte wanneer hulle by die afbreekpunte strafskoppe afdwing. Dít doen hul skitterende losvoorspelers gereeld, met die agtsteman, Gregory Alldritt, aan die spits.

Antoine Dupont

Ook hul skoppe het baie verbeter. Die skrumskakel, Antoine Dupont (24), word as die beste in sy posisie in die wêreld gereken en hy en die losskakel Romain Ntamack (21) kan in een van die beste skakelpare in wêreldrugby ontwikkel. Ntamack het nie Saterdagaand gespeel nie, maar Jalibert het hom goed van sy taak gekwyt.

Vakatawa, ’n Fidjiaan van geboorte en ’n sewesster, is gevaarlik in die middelveld en vorm ’n goeie kombinasie met Gael Fickou.

Aan vernuf het die Franse natuurlik nog nooit ’n tekort gehad nie. Maar skielik het hulle ook generaals wat die oorlog in die vyand se gebied wil veg en ’n sterk agttal om vir dié generaals voorvoetbal te gee. Die haker Camille Chat, die man met die sterkste nek in wêreldrugby en derhalwe ’n sosialemedia-gunsteling, is een van hul groot vuurstokers in die loopgrawe.

As hulle kan bly groei en dié drie elemente aanhoudend kan vermeng, gaan hulle gewis ’n titelaanspraakmaker wees by die Wêreldbeker-toernooi wat hulle in 2023 aanbied.

Saterdagaand het Skotland eenvoudig te veel ongedwonge foute begaan. Soos toe hulle die bal in die doodsnikke oor die doodlyn geskop het toe hulle die kantlyn ná ’n strafskop opgesoek het.

Die Suid-Afrikaanse stormram-vleuel, Duhan van der Merwe, kon nie op sy goeie spel van verlede week voortbou nie.

Die Hane is nou gemaklik boaan die puntelys van die Nasiesbeker se Groep B. Dit is onwaarskynlik dat hulle enigsins laer as dit sal eindig.

Puntemakers:

Frankryk 22 (12): Drie: Virimi Vakatawa. Doelskop: Thomas Ramos. Strafdoele: Ramos (4). Skepdoel: Matthieu Jalibert.

Skotland 15 (12): Strafdoele: Duncan Weir (5).

 
Meer oor:  Duhan Van Der Merwe  |  Antoine Dupont  |  Matthieu Jalibert  |  Frankryk  |  Skotland  |  Nasiesbeker-Reeks  |  Hane  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.