Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franse sink Kolbe se Spele-kans

Dit lyk asof dit neusie verby is vir die Springbokheld Cheslin Kolbe se droom om ’n Wêreldbeker- én Olimpiese medalje binne 12 maande in te palm, nadat sy klub ’n versoek van die Blitsbokke om hom vry te stel geweier het.

Kolbe, een van die Springbokke se twee driedrukkers in die WB-eindstryd teen Engeland, het gehoop om by vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio vir die Blitse uit te draf.

Cheslin Kolbe

Neil Powell, die Blitsbokke se afrigter, sê Toulouse, Kolbe se Franse klub, weier om hom vry te stel vir die sewestoernooi op 29 Februarie en 1 Maart in Los Angeles. Volgens Powell was selfs Rassie Erasmus, direkteur van SA Rugby, se vergadering met Toulouse in dié verband vergeefs.

“Ons gaan ongelukkig nie vir Cheslin Kolbe kry nie, so dit maak dit moeilik om hom te kry vir die Olimpiese groep,” sê Powell. Hy het vyftienmanspelers vroeër gemaan dat hulle in vanjaar se Wêreldreeks sal moet speel om vir die Spele te kwalifiseer. Sover het die Bulle se Rosko Specman en Dylan Sage, Ruhan Nel en Seabelo Senatla van die Stormers en Werner Kok – wat in Frankryk gespeel het en ná die huidige seisoen vir die Haaie sal uitdraf – reeds vir die Blitse gespeel.

Powell se plan was om Kolbe te betrek, veral oor sy giftige systappie en die manier waarop hy verdedigers in ’n japtrap kan klop. Dié blitsige vleuel is egter so ’n gesogte speler vir Toulouse dat hulle hom glad nie wil laat gaan om sewes te speel nie.

Kolbe het verlede jaar reeds sy merk in Europa gemaak met sy insluiting in die Top14-droomspan en is onder meer aangewys as die Top14-Speler van die Jaar.

Die een speler wat nog nie vir die sewes uitgedraf het nie maar steeds in aanmerking kan kom vir die Spele, is die flank Kwagga Smith, wat tans rugby in Japan speel.

In dié stadium lyk dit of hy wel vir die Blitse sal uitdraf in die toernooie in Parys en Londen, omdat sy verpligtinge in Japan dan afgehandel sal wees.

Vir die toernooie in Los Angeles en Vancouver (7 en 8 Maart), sal die veelsydige Mfundo Ndhlovu sy terugkeer maak, met min ander veranderings.

Ons sal iewers nog ’n toernooi moet kry.

Powell sê Ndhlovu het hopelik herstel van ’n besering. “Ons wil graag vir hom ’n kans gee want ons glo hy is ’n speler wat baie potensiaal het.”

Intussen het Wêreldrugby Donderdag aangekondig die toernooie in Hongkong (3 tot 5 April) en Singapoer (’n week later) word tot Oktober uitgestel weens die risiko van Covid-19, die koronavirus wat in China ontstaan het.

Dié besluit het die Blitse se voorbereidings vir die Spele verder geknou, met minder speelkans om voor te berei vir die Spele.

Dit het ook ’n impak op Powell se aanwending van sy beskikbare spelerskorps. Sekere spelers, soos Werner Kok, het reeds Curriebeker-kontrakte gesluit en sal nie in Oktober beskikbaar wees vir die toernooie in Hongkong en Singapoer nie.

Powell erken sake word nou bemoeilik, omdat hy op dié twee toernooie gereken het.

Hy sê hy glo nie die reeks in Vancouver, gevolg deur ’n onderbreking van tien weke en daarna twee toernooie in Londen en Parys (albei einde Mei) is voldoende wedstrydtyd vir die Olimpiese Spele nie. Die Spele vind van 24 Julie tot 9 Augustus plaas.

“Ons sal iewers nog ’n toernooi moet kry om seker te maak dat ons genoeg wedstrydtyd voor die Olimpiese Spele kry,” sê hy.

Powell reken die uitstel van die toernooie na Oktober maak die seisoen eintlik te lank en meen die organiseerders moes die byeenkomste eerder afgestel het of na ander plekke verskuif het.

Nog ’n moontlikheid is om ’n bykomende voorbereidingskamp in aanloop tot die Spele te hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.