Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frik neem afskeid van sy Bok-held

Godvresend, standvastig, betroubaar en ’n ware rots.

Frik du Preez gesels Vrydag in Pretoria oor sy oud-slotmaat wyle prof. Johan Claassen. Foto: Isabel Venter

So het wyle prof. Johan Claassen se vrou, Ada, hom Vrydag in Pretoria op ’n gedenkdiens vir dié voormalige Springbok-legende opgesom.

Claassen is Sondag oorlede in die ouderdom van 89.

Verskeie oud-Bokke soos Wynand Claassen, Frik du Preez en Avril Malan het saam met familie en vriende hulde gebring aan Claassen.

“Hy was ’n voorbeeld vir my en ons vier kinders, 13 kleinkinders en twee agterkleinkinders.

“Sy woorde was altyd min en met sout besprinkel. Sy humor was eie aan hom.

“Ná 62 jaar saam kan ek net in diep dankbaarheid sê: Here, U meetsnoere het vir ons in lieflike plekke geval,” het Ada in die begrafnisbrief geskryf.

Die begrafnisbrief van wyle prof. Johan Claassen. Foto: Isabel Venter

Claassen het as speler 28 toetse tussen 1955 en 1962 vir die Springbokke gespeel en hy het die span nege keer aangevoer.

Hy het daarna as afrigter, keurder en spanbestuurder diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap.

Wynand Claassen (hulle was nie familie van mekaar nie) het in ’n huldeblyk gesê Claassen het op die 1981-betogertoer in Nieu-Seeland ’n invloedryke rol as spanbestuurder gespeel.

“Die ouens was aan die begin van die toer skrikkerig vir hom. Vir hom was dissipline ononderhandelbaar.

“Hy het jou sommer vasgevat en teen jou geskrum. Hy was ’n taai ou gewees. Johan was ook ’n wonderlike mens. ’n Baie diep ou.

“Baie mense het gedink hy is die beneukte, somber man, maar hy het ’n ander sy ook gehad.

“Ek sal nooit vergeet hoe hy in 1985, toe ons ’n reünie gehou het (die 1981-toerspan) saam met ons in die jacuzzi geklim het nie.”

Frik du Preez, wat in 1961 en 1962 in agt toetse saam met Claassen gespeel het, waarvan vyf as slotpaar, het gesê hy was “ ’n moerse ou”.

“Hy was my held voordat ek vir die Springbokke gespeel het.”

Die oud-Springbokkaptein Wynand Claassen het op wyle prof. Johan Claassen se gedenkdiens in Pretoria ’n huldeblyk gelewer. Foto: Isabel Venter

Du Preez sê in sy laaste drie seisoene (1969-1971) was drie van sy oudspanmaats keurders van die Bokspan – Claassen, Ian Kirkpatrick en Avril Malan.

“Dit was allermins ’n grap. Johan het my nooit vertel wat ek moet doen nie, maar as ons op toer was, het hy my altyd vertel wat ek nié moet doen nie,” skerts Du Preez.

Hy moes die afgelope paar jaar baie oudspanmaats se begrafnisse bywoon. Verlede jaar was dit Martin Pelser.

“Dit is hartseer jong. Jy weet van daardie 1960-’61-toerspan (wat onoorwonne was teen Wallis, Ierland, Engeland, Skotland en Frankryk) is daar nou net sewe van ons 30 oor.

“Dit is net ek, Hennie van Zyl, Avril, Mannetjies Roux, Jannie Engelbrecht, Dave Stewart, Mike Antelme. Ons raak vinnig minder.”

Meer oor:  Johan Claassen  |  Springbokke  |  Frik Du Preez  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.