Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Frik du Preez se naam op Loftus verewig

Frik du Preez het Maandag ’n ent van waar hy byna 53 jaar gelede sy eerste (en enigste) toetsdrie gedruk het teen die Britse en Ierse Leeus van 1968, trots met die Curriebeker op Loftus Versfeld gepronk.

Dit was hier in die hoekie (waar hy gedruk het)? vra iemand.

Frik du Preez met die Curriebeker op Loftus. Die noordpawiljoen op die agtergrond word na Du Preez genoem. Foto: Deaan Vivier

“Nee, dit was darem ’n bietjie nader pale toe,” antwoord die 85-jarige legendariese oud-Springbok vinnig met ’n ondeunde glimlag.

Die Blou Bulle-maatskappy (BBM) en Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) het aangekondig dat Loftus se noordpawiljoen na Du Preez genoem word.

Du Preez kyk met heimwee oor Loftus se leë pawiljoene en lyk aangedaan wanneer hy oor dié eer praat.

“Ek het dit nie verwag nie. As ek so dink aan die ouens wat voor my gespeel het, jissie, dan voel ek darem klein,” sê hy.

“Ek dra dit op aan almal wat saam met my gespeel het. My ou klubmaats, die manne wat saam met my vir Noord-Transvaal gespeel het en my voormalige maats in die Bok-span. Onthou, ek het vir 18 seisoene hier rondgehardloop, maar ek weet nie heeltemal of ek hierdie verering verdien nie.”

Hy sê die solodrie op 8 Junie 1968 teen die Leeus sal altyd vir hom uitstaan.

Die Springbokke het die eerste toets op Loftus met 25-20 gewen en uiteindelik die toetsreeks met 3-0 beklink (een toets het gelykop geëindig).

En wie kan vergeet van die dag toe die Ligbloues se slot, wat volksbesit was in Pretoria, gedrop, geplace en gescore het in 1969 se Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie?

“Dit was ook ’n spesiale dag. Ek is in daardie stadium uit die Springbokspan gelaat en ek het besluit ek wíl gaan toer. Die bal het ook maar net reg gespring daardie dag,” vertel Du Preez oor Noord-Transvaal se sege van 28-13 oor die Streeptruie.

Ek kan nie aan rugby gewoond raak sonder toeskouers nie.
frik du preez
Die rugbylegende Frik du Preez is op Loftus Versfeld vereer. Die noordpawiljoen op die agtergrond word na Du Preez genoem. Foto: Deaan Vivier

Hy sê dit is hartseer dat die Springbokke en die Leeus binnekort in waarskynlik leë stadions teen mekaar te staan sal kom.

“Dit is tragies. Ek kan nie aan rugby gewoond raak sonder toeskouers nie,” sê Du Preez.

“Ek hoop hulle kom toer, maar ek het ook gelees dat Willie John (McBride), ’n groot vriend van my, sê dit is nonsens dat die toer sonder toeskouers plaasvind. Ek wil so half saam met hom stem. Kon hulle dit nie maar tot later uitgestel het nie?”

Du Preez skerts hy is deesdae soos iemand wat op Grey Kollege was (wat sê hy was daar op skool nog voordat hy gevra word).

“Daar is net vier Springbokke wat agt toetse in twee reekse teen die Leeus gespeel het, Johan Claassen, ek, Jan Ellis en Hannes Marais,” sê hy.

“Maar ek is die enigste ou wat nooit ’n toets teen hulle verloor het nie.”

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Bulle  |  Leeus-Toer  |  Frik Du Preez  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.