Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gaan Covid-19 SA afrigters hul poste kos?

Die aksies van rugbybase en selfs spelers wek die indruk dat hulle nie die omvang van die invloed van die Covid-19-pandemie ten volle begryp nie.

In Suid-Afrika het ons byvoorbeeld ’n kompetisiestruktuur waar ligapunte in die Superrugby Unlocked-reeks verwerf, na die Curriebeker-kompetisie toe, wat direk daarna begin, oorgedra word. Die probleem hiermee is dat die plaaslike Superreeks se integriteit reeds ondermyn is deur die wedstryd tussen die Leeus en Cheetahs, wat weens positiewe Covid-19-toetsuitslae in die Leeus se geledere afgelas moes word.

Het ons rugbybase werklik gedink dat die ganse kompetisie hom sonder ontwrigting sou afspeel wanneer spelers nie in bio-veiligheidsborrels afgesonder word nie?

Indien die Leeus of Cheetahs ’n ligapunt of dalk selfs twee bo of onder ’n ander span eindig, is die uitkoms van die kompetisie tegnies daardeur geraak, omrede albei spanne en die Leeus twee ligapunte kry as hul wedstryd nie later kan plaasvind nie. Dít kan of twee ligapunte meer of twee of drie minder wees as wat hulle sou gekry het as die wedstryd gespeel kon word.

Gaan Covid-19 ’n beduidende rol speel in wie se trofeekabinet die Curriebeker vroeg volgende jaar staanplek kry? Foto: Gallo Images

Daar was vroeër vanjaar ’n voorstel dat die voorste vier spanne ná die Curriebeker-reeks moet kwalifiseer om Suid-Afrika in die Pro16-reeks te verteenwoordig. Verbeel jou net rugbybase het daardie pad gestap en was dan potensieel aan die genade van Covid-19 oorgelaat om te bepaal wie speel.

Rob Baxter, hoofafrigter van die Exeter Chiefs wat die Engelse Premierliga en Europese Kampioenebeker gewen het, was in die kol toe hy gesê het dat rugby se grootste uitdaging nie nou is wie trofeë wen nie, maar om finansieel volhoubaar te bly.

Spelers wêreldwyd moet ook leer uit die voorval waar die wedstryd tussen Engeland en die Barbarians, wat vir die afgelope Sondag geskeduleer was, afgelas moes word weens die feit dat spelers uit Barbarians-geledere sonder toestemming hul bioborrel verlaat het.

In die verlede het ’n uitnodiging van die Barbarians ’n speler ’n eregas vir ’n hengse partytjie gemaak, maar dit gaan nie deel van die “nuwe normaal” wees nie. Trouens, daardie spulletjie was hoogs onverantwoordelik en hopelik neem ons spelers dit ook ernstig op indien hulle gevra word om hul bewegings te beperk ná die laaste Covid-toets voor ’n wedstryd.

Diegene wat egter die meeste onder Covid-19 kan ly, is die afrigters. Van hulle het prestasie-klousules in hul kontrakte. Maar hoe gemaak wanneer Covid-19 ’n regstreekse rol daarin speel dat dit nie nagekom word nie?

Het die Stormers byvoorbeeld verlede week verloor, sou hul afrigter, John Dobson, onder groot druk gewees het. Geeneen van sy spelers het Covid-19 onder lede gehad nie, maar sy voorbereiding is deurmekaar gekrap omdat die Leeus die vorige week ’n speler in die veld gestoot het wat toe later positief getoets is vir die virus.

Ongelukkig vermoed ek die situasie by die Leeus is maar net die begin van baie probleme en ek gaan akkoord met die perspektief wat deur Baxter gebied word.

Beroepsport word tans bedryf met finansiële oorlewing as die belangrikste oogmerk en in Suid-Afrikaanse rugby is dit nie buite die kwessie nie dat Covid-19 nog Superrugby Unlocked se kampioen gaan kroon én bepaal waar die Curriebeker volgende jaar staan.

Meer oor:  Koronavirus  |  Superrugby Unlocked  |  Toetsrugby  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.