Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gaan eet soesji, of trek gordel stywer, sê agent

Rugbyspelers sal hulle moet staal vir ’n “nuwe normaal” van kleiner salarisse.

So waarsku een van Suid-Afrika se voorste rugbyagente Gert Andries van der Merwe, wat intieme kennis het van die Engelse mark, waar klubs besluit het om spelers se salarisse met 25% te verminder.

Van der Merwe verteenwoordig top-Springbokke soos Vincent Koch en Franco Mostert.

Koch sal moontlik aan die Stormers geleen word nadat Saracens uit die Engelse Premierliga gerelegeer is, terwyl Mostert Gloucester die rug toegekeer het ten gunste van ’n aanbod by Honda Heat in Japan.

Om lynstaanballe vir die Honda Heat in Japan te vang gaan vir die Springbok-slot Franco Mostert aansienlik lonender wees as om dit vir Gloucester in Engeland te doen. Foto: Getty Images

Volgens hom is dit slegs in Japan waar die Covid-19-pandemie die spel se ekonomie nie ’n ernstige knou toegedien het nie.

“Spelers gaan nou eerder na Japan kyk. Dís wat met Franco gebeur het. Hy het die vermindering van 25% van sy salaris opgeweeg teenoor wat hy in Japan kan verdien. Dit help nie jy bly dan by Gloucester nie. Dán móét jy skuif,” sê Van der Merwe.

Premiership Rugby (PR), die beheerliggaam van die Engelse klubs, en die Spelersvereniging (RPA) stamp tans koppe oor die besluit om salarisperke van £6,4 miljoen per seisoen tot £5 miljoen te verminder. In die verlede was daar ruimte vir twee markiesspelers wie se salarisse nie bygetel sou word nie.

Vorentoe sal daar slegs een wees.

Die RPA dreig met regsaksie, hoewel Van der Merwe sê daar is begrip vir die posisie waarin klubs hulle bevind.

“Die spelers voel dit aan hul sakke, maar hulle kan sien dat die klubs begin sukkel en dat daar nie ’n alternatief is nie. Alvorens Covid-19 in bedwang gebring word, en ons weet nie hoe lank dit sal neem nie, is daar nie veel wat jy daaraan kan doen nie.”

Ondanks die RPA se waarskuwing oor regsaksie, meen Van der Merwe daar is by hulle ook ’n besef vir die finansiële penarie waarin klubs hulle bevind.

Daar gaan hier en daar ’n span wees wat bereid is om groot geld te betaal, maar in die algemeen dink ek dis slegs Japan waar dit nie lyk of die wêreldekonomie hulle bekommer nie.

“Hulle (die RPA) weet nie regtig watter kant toe nie. Ek dink die groot probleem, wat by baie ouens deurgeskemer het, is dat dit beter gaan wees om elders te speel. Ek dink Engelse rugby gaan ’n gros spelers verloor.”

Daardie elders is Japan, meen hy.

“Japan hanteer die situasie die beste. Die geld is goed daar en hulle voel nog nie die druk nie.”

Selfs die Franse sukkel.

“In Frankryk moes baie spelers ook salarisverminderings aanvaar en dit lyk nie vir my of hulle vanjaar weer daar gaan speel nie. Ek dink daar gaan hier en daar ’n span wees wat bereid is om groot geld te betaal, maar in die algemeen dink ek dis slegs Japan waar dit nie lyk of die wêreldekonomie hulle bekommer nie,” sê Van der Merwe.

Moet egter nie verwag dat die uitdagings in Engeland en Frankryk die vloei van Suid-Afrikaanse spelers na die Noordelike Halfrond noemenswaardig gaan stuit nie.

Ook nie wanneer die salarisverminderings waarop in Suid-Afrika ooreengekom is, in Desember sal eindig nie.

“Ons is in presies dieselfde situasie. Hier word self ál hoe minder kontraktering gedoen en ouens word ook gesny. Die neiging is na laer aanbiedinge.”

As rugby in Augustus afskop en daar word in Oktober en November toetse gespeel, meen Van der Merwe die moontlikheid van verdere salarisverminderings ná Desember sal uit die weg geruim word.

“Ek glo dit sal dan normaliseer, maar ek dink normaal gaan gewysig word. Dit gaan oral verander.”

Meer oor:  Salarisverminderings  |  Japan  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.