Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gaan Gelant vir Skosan vervang?

Die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, het Maandag daarop gesinspeel dat die opwindende heelagter van die Blou Bulle, Warrick Gelant, in die beginspan kan wees vir Saterdag se rugbytoets teen Wallis in Cardiff.

Warrick Gelant het ’n belowende toetsdebuut teen Italië as plaasvervanger gemaak. Foto: Gallo Images

Gelant het die afgelope naweek in die Bokke se sege van 35-6 oor Italië in Padua ’n indrukwekkende kamee as plaasvervanger gelewer. Dít in sopnat toestande, wat nie eens bevorderlik is vir sy aanvallende instink nie.

“Daar was ’n paar oomblikke toe Warrick die bal in die hand gehad het dat hy met dartellopies en aftrappe uit niks uit nie momentum geskep het. Hy’s ’n opwindende speler,” sê Coetzee.

“Sover my kennis strek, gaan die stadion se dak toe wees. Dit gaan ’n lekker veld wees om op te speel en Warrick is in droë toestande op sy beste. Wie weet, hy kan dalk weer in die prentjie wees.”

Wat wel interessant sal wees, is om te sien of Coetzee dalk vir Gelant op vleuel sal oorweeg in die plek van Courtnall Skosan. Andries Coetzee het nog nie iets gedoen wat sy weglating sal regverdig nie, terwyl Skosan broos lyk op toetsvlak. Dis veral Skosan se onvermoë om hangskoppe te bemeester en sy verdediging wat toenemend ’n teiken word vir opponerende spanne.

Natuurlik sal ’n mens aan die ander kant ook graag wil sien dat Gelant ’n geleentheid in sy voorkeurposisie gegun word. Dís ’n toffie wat Coetzee oornag sal kou voordat hy Dinsdag die span kies wat hy later in die week eers amptelik sal aankondig.

Malcolm Marx, die Bokke se eerstekeuse-haker, sal weer op sy pos wees vir die toets teen Wallis.Foto: Gallo Images

Malcolm Marx behoort terug te keer op haker nadat hy die wedstryd teen Italië met ’n seer skouer misgeloop het. Dit sal wees in die plek van Bongi Mbonambi, wat met sy geleentheid in die beginspan teen die Azzurri gewys het dat hy ’n waardige adjudant vir Marx is.

Dan is daar die tameletjie van ’n losvoorspelerkombinasie nadat Duane Vermeulen en Francois Louw hulle weer by hul oorsese klubs moes aansluit.

Siya Kolisi is wel terug in die groep nadat hy die Italië-stryd misgeloop het om by sy vrou te wees vir die geboorte van hul tweede kind. Hy behoort Louw te vervang.

Daar behoort met Pieter-Steph du Toit as die ander flank volhard te word en siende dat Dan du Preez die afgelope twee toetse op die plaasvervangerbank was, is die kans baie goed dat hy op agtsteman gekies sal word.

Coetzee het dit onomwonde gestel dat hy “die beste beskikbare span” gaan kies.

Die ervare loskopstut Tendai Mtawarira sal soveel tyd as moontlik gegun word om van sy seer lies te herstel.

Die Bok-breier het erken dat Louw en Vermeulen se terugkeer na hul onderskeie klubs groot verliese is. Hy hoef hom nie ewe veel oor Franco Mostert te verknies nie omdat Du Toit slot toe geskuif kan word indien Eben Etzebeth of Lood de Jager die veld moet verlaat.

“Dis waardevolle ervaring wat ons met Flo en Duane verloor. Dis ouens wat al hul stempel op Bok-rugby afgedruk het.

“Ek is seker Dan du Preez, Oupa Mohoje en Uzair Cassiem het baie by hulle geleer. Hopelik gryp hulle die geleenthede aan wat hul kant toe kom. Dis die aangename ding van die spel. Ons verloor twee ervare losvoorspelers, maar ’n paar jong, opwindende ouens kry nou ’n kans.”

Meer oor:  Wallis  |  Jaareindtoer  |  Springbokke  |  Warrick Gelant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.