Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gaan Kings-breier se kop ook rol?

Die gerugte raak al sterker dat die afrigter Deon Davids se toekoms by die Southern Kings in die weegskaal is.

Die hoofafrigter van die Kings, Deon Davids, is in sommige kringe onder skoot. Foto: Gallo Images

Daar is reeds aan die begin van die afgelope Pro14-reeks, toe ’n konsortium sakemanne by die Kings-franchise begin betrokke raak het, in stil hoekies gefluister dat Davids se dae getel is.

Die Kings se nuwe base het reeds begin om die ou hout uit die Kings se spelerskorps te sny.

Soveel as 20 spelers se kontrakte gaan glo nie hernu word nie.

Nou klink dit asof Davids ook in die slag kan bly. Daar is reeds op ’n ondersteunersblad van die Kings begin bespiegel oor wie by hom gaan oorneem.

Sean Everitt, hulpafrigter van die Haaie, is volgens die gerugte een van die kandidate om die sweep vorentoe by die Kings te klap. Daar is ook sprake daarvan dat die Kings se base jag maak op iemand van oorsee, soos Mouritz Botha, wat tans in Duitsland afrig. Chean Roux, afrigter van die Junior Bokke, se naam duik ook in gesprekke op.

In hierdie stadium word daar egter geen nuus uit die Kings se kamp vrygestel nie. Nie eens navrae oor spelers lewer iets op nie. Die antwoord is elke keer: “Dalk later in die week.”

Dít terwyl nog ’n sterk gerug lui dat die voormalige Stormer-losskakel Demetri Catrakilis reeds deur die Kings gekontrakteer is. Catrakilis, wat in 2013 vir die Kings gespeel het, bevind hom tans nog in Engeland by die Harlequins-klub.

Davids het nog tot die einde van die volgende Pro14-reeks ’n kontrak met die Kings. Indien die gerugte onwaar is dat hy op pad uit is, sal die Kings se base ’n sterk boodskap van ondersteuning moet uitstuur. Dit is nie goed vir ’n span se afrigter om gereeld te hoor sy dae is getel nie.

Die 51-jarige Davids is reeds vandat hy in 2016 die Kings begin brei het in sekere kringe gekritiseer.

Sean Everitt, hulpafrigter van die Haaie, is volgens die gerugte een van die kandidate om die sweep vorentoe by die Kings te klap.

Dat hy onder moeilike omstandighede moes probeer om ’n mededingende span op die veld te stuur is ’n feit. Die afgelope seisoen moes hy byvoorbeeld met ’n klein ondersteunende span probeer red wat daar te redde is.

Dit was eers teen die einde van die Pro14-reeks dat hy in Robbi Kempson ’n voorspeler-afrigter gekry het om hom te help.

Die Kings kon vanjaar net twee wedstryde in die Pro14-reeks wen, met nog een wat gelykop geëindig het.

Verlede seisoen was die Kings net een keer aan die wenkant.

In die Super-reeks het die Kings ook gesukkel, telkens met ’n nuwe groep spelers wat laat bymekaargebring is.

Die een keer toe Davids darem ’n redelike voorseisoen met ’n bruikbare groep spelers gehad het, was in 2017 en toe het die span baie beter gevaar.

Nie almal kritiseer Davids egter nie. Hy was voor die huidige Super-reeks selfs op ’n kortlys om die Bulle se hoofafrigter te word.

Meer oor:  Chean Roux  |  Deon Davids  |  Sean Everitt  |  Pro14-Reeks  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.