Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gaan Clarke ná jaar steeds stempel afdruk?
Hiert! Caleb Clarke probeer die Wallabies se Michael Hooper (links) die afgelope naweek in Auckland ontwyk. Foto: AP

Ná die All Blacks se oorwinning die afgelope naweek is die naam Caleb Clarke op almal se lippe, maar volgens Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, is die vraag of hy oor ’n jaar steeds so ’n groot impak sal hê.

Nieu-Seeland, met Clarke aan die voorpunt, het die Wallabies met 27-7 in ’n Bledisloebeker-kragmeting in Auckland geklop.

Dié 21-jarige vleuel het verwoesting met die bal in die hand gesaai en die Australiërs male sonder tal behoorlik laat bontstaan om hom grond toe te bring.

In sommige mediakringe is Clarke se lof so besing dat hy summier met die legendariese Jonah Lomu vergelyk is.

Clarke het verlede seisoen in 16 wedstryde vir die Kiwi’s in Wêreldrugby se sewesreeks gespeel en tien drieë gedruk. In die halfeindstryd van die Vancouver-sewestoernooi vroeër vanjaar, waar die Nieu-Seelanders die Blitsbokke met 27-15 geklop het, het Clarke twee keer gaan druk.

Caleb Clarke stamp die Blitsbokke se Branco du Preez hardhandig uit sy pad in die Vancouver-sewestoernooi in Kanada in Maart 2020. Foto: Getty Images

“Ek dink almal kon die naweek sien dat hy ’n goeie baldraer is en sterk hardloop, wat beteken dat hy nie sommer net grond toe gaan nie. Selfs daardie een keer toe hulle hom platgetrek het, toe spring hy op en hardloop verder,” sê Powell.

“Die fisiekheid wat hy na die spel bring, is regtig iets, hy is baie goed met die bal in die hand. Daarby het hy nog spoed ook.

“Dit is altyd lekker om so ’n ou op die veld te hê wat jou momentum kan gee. Ek dink hy het ’n goeie loopbaan wat vir hom voorlê, hy is nou eers 21 jaar oud.

“Die interessante ding sal wees hoe dit vorentoe gaan. Soos ook maar met ons sewesspelers in die langer weergawe ook die geval is: Die eerste twee naweke blink hulle uit totdat die teenstanders sien wat gedoen moet word om hulle te neutraliseer.

“Dit sal dus interessant wees om te sien of hy ná ’n jaar steeds so ’n groot impak in die 15’s het,” sê Powell.

Clarke, wat Sondag in slegs sy tweede toets gespeel het, is die seun van Eroni Clarke, wat die All Blacks tussen 1992 en 1998 in tien toetse en 14 wedstryde verteenwoordig het.

In seweskringe is daar natuurlik groot vreugde oor die soveelste speler wat die oorgang van die korter weergawe van die spel na die langer een gemaak het.

“Almal is bly en dit wys weer dat sewes as ’n trappie gebruik kan word om aan te gaan na 15’s. Dit gaan nie net oor die vaardighede nie, maar ook dat jy voor vol stadions speel en onder daardie druk funksioneer (in sewes),” sê Powell.

Jonah Lomu ontduik die hande van ’n Wallaby gedurende ’n toets in 1995. Foto: Getty Images

“Partykeer is dit die sielkundige druk waaronder ’n ou uitblink. Jy moet sielkundig sterk wees om drie keer ’n dag aan en af te skakel en ook teleurstellings vinnig kan verwerk om weer die volgende wedstryd te speel.”

Intussen sê Powell hy is tevrede met die Blitsbokke se voorbereiding vir die nuwe seisoen van die sewesreeks, wat na verwagting laat in Maart gaan begin.

Die nasionale sewesspelers het onlangs weer met kontakoefeninge begin.

“Die fokus was maar meestal op kondisionering en die verbetering van die individue. Daar is baie gefokus op die ontwikkeling van die individuele vaardighede,” sê hy.

“Ons is nog ver van speel af, hopelik kan ons eerder vroeër as later ’n paar plaaslike wedstryde kry. Ons sal dit gebruik om een of twee dinge op die proef te stel en te kyk of ons op die regte pad is wat ons voorbereiding betref.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Caleb Clarke  |  All Blacks  |  Bledisloebeker  |  Rugbykampioenkap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.