Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gaap... nóg twee Leeus dalk oorsee

Die Leeus sal binnekort weet of hulle nog twee van hul sterre, Andries Coetzee en Jacques van Rooyen, aan ’n oorsese klubspan gaan afstaan.

Die 31-jarige Van Rooyen onderhandel met die Engelse klubspan Bath, dieselfde klub wat Duane Vermeulen vir die duur van volgende jaar se Engelse Premierliga wil kontrakteer.

Jacques van Rooyen (links) en Andries CoetzeeFoto’s: GALLO IMAGES EN WIKUS DE WET
Andries Coetzee.Foto: WIKUS DE WET

Die loskopstut van die Leeus kan hom reeds ná vanjaar se Superrugby vir die volgende twee jaar by die Springbok-flank Francois Louw in Bath aansluit. Sy agent, James Adams, het Bath se belangstelling in hom bevestig.

Hy speel sedert 2013 vir die Leeus en het nog min erkenning vir sy bestendige spel gekry. Die Barbarians het hom wel in 2017 vir een van hul feeswedstryde genooi.

Sale Sharks, Gloucester en Toulon is die drie oorsese klubspanne wat die hardste na Coetzee se dienste vry.

Die 28-jarige Bok-heelagter was vroeër vanjaar saam met Warrick Gelant (Bulle) en Curwin Bosch (Haaie) na die nasionale oefenkampe genooi. Hy was egter nie in enige van die vier toetse vanjaar betrokke nie, met Willie le Roux wat nou as die Bokke se eerstekeuse-heelagter beskou word.

Coetzee speel al van 2011 vir die Leeus.

Die Leeus het intussen nog geen woord gerep oor Cyle Brink, Elton Jantjies en Lionel Mapoe nie.

Cyle BrinkFoto: DEAAN VIVIER
Elton JantjiesFoto: GALLO
Lionel MapoeFoto: FELIX DLANGAMANDLA

John Mitchell wil hê Brink moet na oorkant die Jukskeirivier trek om sy rugby vir die Bulle te speel. Die Bulle is besig met ’n aggressiewe werwingsveldtog om hul span weer ’n sterk titel-aanspraakmaker op die Super-kroon te maak. ’n Moeilike besluit wag op hom.

Die Leeus en Adams het vroeër bevestig dat Perpignan gesprekke met Jantjies gevoer het. Hy was op die randjie om ’n kontrak met hulle te sluit voordat die Franse klubspan ’n tweejaarkontrak met die Ierse losskakel Paddy Jackson beklink het. Dis onseker of Jantjies steeds een van Perpignan se aanwinste gaan wees en of hy ’n heeltydse kontrak in Japan oorweeg.

Mapoe se toekomsplanne is duister, hoewel hy glo belangstelling van Japanse klubspanne gekry het.

Die Leeus het wel al daarin geslaag om twee van hul groot kanonne, Malcolm Marx en Warren Whiteley, vroeër met die hulp van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se nasionale kontrakte te behou. Ruan Combrinck en Ross Cronjé wil hul rugby ook langer in Johannesburg speel.

  • Die Leeus het dié week bevestig dat hulle die senter Rohan Janse van Rensburg vroeër van sy kontrak vrygestel het om hom vir die volgende drie jaar by Sale Sharks aan te sluit.

Die 23-jarige Bok-senter was ook in onderhandelinge met Johan Ackermann se Engelse klubspan Gloucester betrokke.

Meer oor:  Leeus  |  Acques Van Rooyen  |  Andries Coetzee  |  Oorsee  |  Klub  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.