Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gans nuwe Blitsbok-kaptein

Stedman Gans gaan die nasionale sewesspan die eerste keer in Wêreldrugby se sewesreeks aanvoer nadat die Blitsbokke se kaptein, Siviwe Soyizwapi, beseer is.

Stedman Gans probeer ’n Amerikaner ontduik in die Singapoer-sewestoernooi in 2019. Foto: Getty Images

Die 22-jarige Gans, ’n boorling van Vredenburg in die Wes-Kaap, sal aanstaande naweek sy span in die toernooi in Hamilton, Nieu-Seeland en ’n week later in Sydney, Australië lei.

Dit is nie heeltemal ’n verrassing dat die kapteinskap aan hom toevertrou is nie. Hy is lankal reeds as ’n toekomstige leier geoormerk en het verlede jaar die Akademiespan met onderskeiding in ’n toernooi in Dubai aangevoer.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, het sewe veranderings gemaak aan die groep wat in Desember die eindstryd van die Kaapstad-toernooi gehaal het.

Dylan Sage, Rosko Specman, Ruhan Nel en Seabelo Senatla het almal vir die Superrugby-reeks na hul franchises teruggekeer. Soyizwapi het las van ’n enkelbesering, terwyl Kurt-Lee Arendse sukkel met ’n kniebesering. Dan word Ryan Oosthuizen as deel van rotasiebeleid met Werner Kok vervang.

Selfs sonder al daardie sterspelers is die Blitsbokke steeds ’n gedugte eenheid. Angelo Davids, Branco du Preez, Impi Visser, Cecil Afrika, Muller du Plessis en Gans het lankal reeds bewys dat hulle tuis op die wêreld se grootste sewesverhoog is.

Tarzan, oftewel Werner Kok, is terug in die Blitsbok-trui. Foto: Getty Images

Du Preez is met 71 toernooie die mees ervare Blitsbok, terwyl Afrika se deugde as spelskepper alombekend is. Du Plessis sal na verwagting in Soyizwapi se plek op vleuel diens doen.

Powell sê dit was altyd deel van die seisoen se beplanning dat daar ná afloop van die eerste twee toernooie veranderings aan die groep gaan wees.

“Die hele groep is bewus van ons planne vir die res van die seisoen. Almal weet wanneer en waar hulle speelkans gaan kry en ek is vol vertroue dat die groep sy kanse gaan aangryp.”

Die Blitsbokke is saam met Nieu-Seeland boaan die algehele punteleer ná die eerste twee toernooie, en sal graag op daardie goeie spelpeil wil voortbou.

Suid-Afrika bevind hom vir die Hamilton-toernooi in Groep B saam met Engeland, Kenia en Japan. Slegs die span wat boaan elke groep eindig, sal vir die uitspeelwedstryde kwalifiseer.

* Blitsbok-groep (toernooie in hakies): Chris Dry (70), Angelo Davids (2), Impi Visser (11), Zain Davids (20), Werner Kok (47), JC Pretorius (7), Branco du Preez (71), Selvyn Davids (16), Justin Geduld (48), Cecil Afrika (62), Muller du Plessis (10), Stedman Gans (k, 18). PLAASVERVANGER: Sako Makata (6).

* Kenia het die 33-jarige veteraan Collins Injera vir Hamilton by sy groep ingesluit. Injera, wat die eerste twee toernooie van die nuwe seisoen misgeloop het, is met 271 drieë die naasvoorste drieëvraat naas Engeland se Dan Norton (346) tot op hede in Wêreldrugby se reeks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.