Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gatland begryp nie bohaai oor Engelse breiers

Hy verstaan nie die bohaai wat gemaak is oor die feit dat lede van Engeland se afrigtingspan nie onder sy luitenante gaan tel vir die Britse en Ierse Leeus se toer Suid-Afrika toe nie, sê Warren Gatland.

Die name van die vier hulpafrigters – Gregor Townsend (aanval), Robin McBryde (voorspelers), Steve Tandy (verdediging) en Neil Jenkins (skop) – is Dinsdag eers amptelik bekend gemaak.

Warren Gatland, hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus. Foto: Getty Images

Daar is egter vooraf reeds wyd bespiegel dat die Rose se breiers dit nie gaan maak nie. Dit het ingesluit hul voorspelerafrigter, Matt Proudfoot, en verdedigingsafrigter, John Mitchell. Albei het intieme kennis van Suid-Afrikaanse rugby met Proudfoot wat selfs die Springbok-agttal in die Wêreldbeker-toernooi in 2019 gebrei het. Eddie Jones, Engeland se hoofafrigter, het in Desember verlede jaar nog genoem dat daar kontak was oor moontlike rolle vir sy luitenante en dat hy hulle sou aanmoedig om die geleentheid aan te gryp.

Hy het die Springbokke gehelp om 2007 se Wêreldbeker-toernooi te wen en was aan die spits van die Japanse span wat Suid-Afrika in 2015 geklop het.

Die feit dat Engeland vyfde geëindig het in die pas afgelope Sesnasies-reeks kon straks teen hulle getel het.

“Mense probeer ’n bohaai daaroor maak. Niemand het ’n kwessie daarvan gemaak toe ons nie in die verlede Skotse afrigters gehad het nie,” het Gatland gesê.

“Dit gaan oor wie ek dink my die beste sal aanvul, met wie ek al in die verlede saamgewerk het en mense wat ek voel goed as ’n groep sal saamwerk.”

Andy Farrell was aanvanklik in die binnebaan vir die pos van verdedigingsafrigter, maar wou hom op sy werk as hoofafrigter van Ierland toespits met die oog op 2023 se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk.

Matt Proudfoot (arms gevou) en John Mitchell (agter) is oor die hoof gesien vir hulpafrigtersposte by die Britse en Ierse Leeus. Foto: Getty Images

“Ek het weke gelede met Gregor oor Steve Tandy gesels. Hy het vir hom die grootste lof gehad vir wat hy die laaste paar jaar by Skotland gedoen het. Die Skotte se verdediging was verlede jaar en vanjaar die beste in die Sesnasies-reeks. Dit was ’n maklike keuse,” sê Gatland.

Wat die voorspelers betref, wou Steve Borthwick hom toespits op sy pos by Leicester, terwyl Graham Rowntree om familieredes onbeskikbaar was.

“Robin is iemand wat ek baie goed ken en vertrou. Hy weet hoe ek werk. Hy doen baie goeie werk by Leinster.”

Jenkins gee saam met Gatland kontinuïteit aan die afrigtingspan. Die Wallieser was onder die breierskorps vir 2017 se toer Nieu-Seeland toe.

Gatland het wel die deur oopgelaat om nóg ’n hulpafrigter aan te stel.

“Ons kan iemand anders dalk ’n bietjie later betrek – voor of dalk gedurende die toer,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.