Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gatland maak hart oop oor dogter se dood

Warren Gatland het onthul dat sy eerste dogter op die ouderdom van vier maande dood is.

Warren Gatland, Wallis se voormalige afrigter. Hy sal volgende jaar die Chiefs brei en die Britse en Ierse Leeus in 2021. Foto: Getty Images

Dié voormalige afrigter van Wallis en sy vrou, Trudi, se dogter Shauna is 27 jaar gelede in Ierland dood nadat sy met die abnormaliteit spina bifida gebore is.

Gatland het oor sy hartseer in ’n roerende gedeelte van sy outobiografie, Pride and Passion, geskryf, berig walesonline.co.uk. Dié boek verskyn Donderdag.

“Toe Shauna gebore is, in die vroeë ure van 17 Januarie 1992, het ons wêreld verander,” het hy gesê.

“Watter probleme sy ook al mag gehad het, het op daardie oomblik nie by my geregistreer nie. Maar daar was trane in die verpleegpersoneel se oë.

“Die verpleegsters het geweet haar toestand was ernstig en ’n skandering het die ergste bevestig. Ons was platgeslaan.”

Gatland sê dit het die lewe soort van in perspektief geplaas oor die “aaklige dilemma” wat op hom en Trudi gewag het.

Dokters het die paartjie ’n paar opsies van lang en uitmergelende ingrypende prosedures gegee met minimale kanse op langtermyn-sukses, of dat hulle die natuur sy “gang moet laat gaan”.

Gatland, wat toe vir die Galwegians-klub gespeel het, het die Galway-hospitaal se hoof van pediatrie gevra hoe ernstig haar toestand op ’n skaal van een tot tien is, met die kenner wat dit as ’n “nege” beskryf het.

“Dit was die swaarste, die mees ingewikkelde gesprek van my lewe,” skryf Gatland.

Shauna sou veelvuldige groot operasies moes ondergaan, dan nog die risiko van infeksie en sy sou in ’n rolstoel vasgekluister wees.

“Selfs al het die mediese prosedures volgens plan verloop, selfs al het sy soos ’n leeu geveg om te oorleef, watter lewe sou sy gehad het? het Gatland gesê.

Ná gesprekke met senior hospitaalpersoneel, het Gatland en Trudi besluit om die “sagter” roete te neem en haar nie aan die een ná die ander operasie oor jare heen bloot te stel nie.

Shauna is op 13 Mei daardie jaar dood.

Die paartjie het ná Shauna se geboorte teruggetrek Nieu-Seeland toe, maar Gatland, tot sy “diep en blywende spyt”, was in Australië saam met die Waikato-span toe Shauna dood is.

Gatland het twee ander kinders op wie hy ongelooflik trots is, ’n dogter Gabby en ’n seun, Bryn, wat ook rugby speel. Sy leuse toe hy in beheer was van Wallis, was “familie kom eerste” en dit spreek duidelik in sy boek.

Hy het ook onthul sy pa, Dave, wat in Oktober verlede jaar dood is, is in sy Walliese polo-trui begrawe.

Gatland sê hy glo sy besluit om Wallis se afrigter te word en om aan te bly ná die Wêreldbeker-toernooi in 2015, het sy verhouding met Trudi versterk. Hy sê dit was ook sy wat hom oorreed het om sy outobiografie te skryf. 

– Sportredaksie

Meer oor:  Warren Gatland  |  Toetsrugby  |  Rooi Drake  |  Superrugby  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby  |  Chiefs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.