Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gatland verras dalk met jong Filippyner
trofee, Britse en Ierse Leeus
SA Rugby het Dinsdag die trofee onthul wat op die spel sal wees wanneer die Springbokke en Britse en Ierse Leeus later vanjaar slaags is. Foto: Verskaf

Die taamlik onbekende Marcus Smith kan ’n skokinsluiting tot die toergroep van die Britse en Ierse Leeus wees.

The Guardian in Brittanje berig dat dié 22-jarige losskakel van London Harlequins een van 50 spelers is wat ’n brief ontvang het waarin hy oor sy moontlike beskikbaarheid vir die toer gepols is.

Die toergroep van 36 spelers word Donderdag aangekondig.

Smith, wat in die Filippynse hoofstad, Manila, gebore is, het Engeland op alle junior vlakke verteenwoordig. Sou hy gekies word, sal hy die eerste speler sedert Will Greenwood in 1997 wees wat vir die Leeus gekies word nog voordat hy toetsrugby gespeel het.

Smith se ma is ’n Filippyner en sy pa is ’n Brit. Toe hy sewe jaar oud was, het sy gesin van die Filippyne verhuis na Singapoer, waar hy rugby leer speel het. Hy het daar ’n beurs gekry om in Engeland skool te gaan en rugby te speel.

Die jong losskakel Marcus Smith het sterk op die voorgrond vir London Harlequins getree. Foto: Getty Images

Sy insluiting sal egter ’n enorme verrassing wees, gegewe die feit dat Warren Gatland uit ervare losskakels soos Owen Farrell, Dan Biggar, Johnny Sexton en Finn Russell kan kies.

Dat hy op die Leeus se lys van 50 spelers is, beteken straks dat een van dié spelers oor die hoof gesien kan word.

Indien Smith nie die groep na Suid-Afrika haal nie, behoort hy in Julie sy buiging vir Engeland in die toetse teen Amerika en Kanada te maak.

Hy kan ook in die geval van ’n besering na Suid-Afrika ontbied word.

Smith en die ervare Danny Care het die laaste tyd in ’n gedugte skakelpaar vir Quins ontluik, en Care is glo ook in die wedloop om een van die skrumskakels in Gatland se groep te wees.

Care (34) het in 2018 laas ’n toets vir Engeland gespeel, maar sy uitstekende spel in die Engelse Premierliga maak hom ’n onverwagse aanspraakmaker, veral ook nadat Ben Youngs bevestig het dat hy nie vir die toer beskikbaar is nie.

Conor Murray (Ierland), Tomos Williams en Gareth Davies (albei Wallis) is die ander kandidate.

Reg om te gaan toer! Manu Tuilagi kan een van die senters in die Britse en Ierse Leeus se toergroep wees. Foto: Getty Images

Ander spelers wat nie in die Sesnasies-reeks in aksie was nie, maar wat glo op Gatland se radar is, sluit volgens inligting die Rose se bulsenter Manu Tuilagi in, wat nog nie weer internasionale rugby gespeel het sedert hy in September verlede jaar ’n hakbesering opgedoen het nie.

Die Bath-baljagter Sam Underhill en Sam Simmonds, agtsteman van die Exeter Chiefs, wat deur Eddie Jones, Engeland se afrigter, oor die hoof gesien word, is ook in die prentjie.

• Die Springbok-slot RG Snyman het intussen ’n terugslag in sy herstelproses beleef.

Daar is verwag dat hy later die maand oorweeg sou kon word om vir die Ierse klub Munster in die Reënboogbeker-kompetisie te speel, maar dié klub het in ’n nuusverklaring bevestig dat hy eers later na die speelveld kan terugkeer.

“Daar is ongelukkig slegte nuus vir RG Snyman, wat in die laaste fase van sy rehabilitasie was. Hy sal dié week ’n spesialis spreek en ’n klein knie-operasie ondergaan nadat hy ’n onverwante besering opgedoen het,” lui Munster se verklaring.

Bronne: Rugbypass.com, theguardian.com. Wikipedia

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.