Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geblikte gejuig g’n petrol in Stormers-tenk

’n Leë Nuweland-stadion en die Stormers-rugbyspan is beslis nie beste maats nie.

Dit het gisteraand se stotter-sege van 23-17 (rustyd 9-10) oor die Leeus gewys toe die afwesigheid van hul ondersteuners se luide en selfs oorweldigende ondersteuning die Kaapse span effe wees en broos laat lyk het.

Gewoonlik is die skare daardie 24ste speler vir die span, maar die afwesigheid van die kreet “Stormers Jou Lekker Dêng! Stormers Jou Lekker Dêng!” het duidelik ’n effek op die spelers gehad. Gewoonlik sal dit die Kapenaars aanvuur om hul voet harder op hul opponent se strot te trap wanneer hulle in beheer is, of om van die krytvloer af op te staan wanneer dit lyk of hulle ’n uitklophou gekry het.

Maar gisteraand was hulle omtrent so uit pas soos wat die geblikte applous van die onsigbare ondersteuners was.

Byvoorbeeld: Met ’n skrum, nog voor die manne mekaar vasgevat het om te sak, was daar klaar ’n ‘geblikte’ gejubel oor die luidsprekers by Nuweland. Met die skrums, wat baie gelykop was in die eerste helfte, was daar ook luidkeels ’n gefluit en geskree as byklanke, maar die aksie was skraps.

Daar was ook maar bitter min aksie tussen die spanne in die eerste helfte te sien. Die Leeus is pal by die afbreekpunte gestraf, terwyl die Stormers soos afkophoenders gespeel het. Eintlik sou afkophoenders dalk ’n bietjie beter as die tuisspan gevaar het.

Niks het vir die Stormers gewerk nie, hul verdediging was skraps en die Leeus het pal die opskietlyn omseil. Hulle moes baie beter gevaar het om punte aan te teken met die kanse wat hulle geskep het.

Soos daardie eerste drie deur Rabz Maxwane, die Leeus se linkervleuel. Hy het die Bok-flank Jaco Kriel in sy kwartgebied in ’n gaping gesit met ’n goeie aangee. Kriel het ore platgetrek langs die kantlyn en sy kaptein, Elton Jantjies, aan die binnekant gevind. Jantjies het op sy beurt met sagte hande vir Maxwane weggestuur, wat onder die pale gaan druk het.

Jantjies was heel aand puik en het die toutjies agterlangs getrek. Sy hangskoppe was goed, sy lynskoppe – veral as daar druk op hom deur die Stormers-skrumskakel Herschel Jantjes geplaas is – was uitstekend. En hy het hier en daar met ’n dwarsskop die Stormers-verdediging omtrent onkant betrap.

Damian Willemse van die Stormers en Rabz Maxwane van die Leeus ding mee om besit. Foto: Ashley Vlotman, Gallo

Die flink diens wat die Leeus-generaal van sy adjudant Morné van den Berg gekry het, het hom altyd in ’n goeie posisie geplaas om spel te dikteer. Van den Berg was veral in die eerste helfte ’n vonk agter die Leeus-pak wat gedreig het om die Stormers se tuiste af te brand.

In die skrums het die Johannesburgse trop ook duidelik hul huiswerk gedoen nadat hulle vroeër verlede maand in ’n opwarmwedstryd deur die Stormers goed vasgevat is in dié afdeling van die spel. Maar dié keer het hulle stewig gestaan teen die Bok-voorry van die tuisspan.

Sake het aansienlik beter met die Stormers in die tweede helfte gegaan en dis nie te betwyfel nie dat die span se afrigter, John Dobson, vuur onder sy spelers gemaak het.

Senter-drieë deur Rikus Pretorius, wat ’n bal onderskep het, en Dan du Plessis, wat ná ’n vinnige strafskop danksy ’n plat aangee oor die lyn gebeur het, het die gety in die Stormers se guns geswaai.

Met die vars bene op die veld, het die tuisspan ook weer begin speel soos wat hul ondersteuners weet hulle kan.

Dié twee drieë het welkome momentum aan die span besorg en met net minder as 15 minute ook ’n voorsprong van 23-10 beteken.

Die Leeus wou egter nie bes gee nie en het die Stormers met skoppe gepeper om veldposisie te kry.

Heldhaftige verdediging met die laaste beweging het die wedstryd uiteindelik vir die tuisspan beklink met die Leeus wat net-net nie ’n verdoelde drie kon kry vir ’n sege nie.

  • Leeus (17) Drieë: Rabz Maxwane, Elton Jantjies. Doelskoppe: Jantjies (2). Strafdoel: Jantjies. Stormers (23) Drieë: Rikus Pretorius, Dan du Plessis. Doelskoppe: Damian Willemse (2).  Strafdoele: Willemse (3). 
Meer oor:  Morné Van Den Berg  |  Stormers  |  Leeus  |  Rabz Maxwane  |  Elton Jantjies  |  Geblikte Applous  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.