Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gee dié ‘waterdraers’ ’n rooikaart!

’n Nuwe neiging wat rugbytoeskouers van hul kykgenot beroof het Leighton Koopman warm onder die kraag.

Aksie op die rugbyveld is wat toeskouers en TV-kykers se adrenalien laat pomp. Hoe meer hardlooprugby daar is, hoe groter die opwinding en die ervaring van genoegdoening.

Glen Jackson
Die skeidsregter Glen Jackson (middel in groen) probeer die waterdraers van die Stormers en Bulle verlede Saterdag van die veld af kry. Altesaam sewe van hulle (omkring met geel) het op ’n tyd water en boodskappe aan spelers oorgedra en spel opgehou voordat Jackson hulle van die veld gekry het. Foto: Leighton Koopman

Dit kan ’n mens waarneem in die hoëtempo-spel van Nieu-Seelandse rugbyspanne wat tot groot bevrediging onder ondersteuners lei. Daarteenoor is die eendimensionele spel van ander lande in die verlede telkens as vervelig afgemaak.

Met die meeste spanne wat nou die Kiwi’s se hoë tempo probeer nadoen, is die aksie propvol. En die kykgenot, ook op TV, beter.

Maar daar is nou ’n dinges in die drinkwater wat stadig maar seker die kykgenot begin bederf.

En dis die gekoek van spanne se waterdraers op die veld met onderbrekings in spel en die gevolglike verkwisting van speeltyd. Die manne met die waterbottels, wat teen ’n stinkspoed op die veld hardloop, is eintlik daar om bevele en raad vanuit die afrigtershokkie oor te dra.

Hierdie waterdraers se besetting van die speelveld is besig om ’n onding in rugby te raak. En hoe gouer dit gestop word, hoe beter vir die kontinuïteit van die spel.

Waterdraers spandeer al hoe meer tyd op die veld – veel meer as sommige plaasvervangers.

Om elke hoek en draai – veral as hul span pal aan die verdedig is – word hulle op die rugbyveld gesien.

Natuurlik ook om water aan die spelers te gee, maar hoofsaaklik om met ’n gehoorstuk vasgeplak aan hul oor die boodskappe van afrigters aan spelers oor te dra.

Dis iets wat deesdae al hoe meer ondersteuners en TV-kykers grensloos irriteer – die aanhoudende en klaarblyklike opsetlike onderbrekings van spanne om “water” op die veld te kry.

Verlede naweek in die noord-suid-derbystryd tussen die Stormers en die Bulle het dié oordadige onderbrekings sy kop uitgesteek en ’n wedstryd beduiwel wat by tye gedreig het om goeie rugby op te lewer.

Dit het die vloei van die wedstryd by tye erg geraak.

En albei spanne het hulle daaraan skuldig gemaak.

Dinge het so handuit geruk dat daar drie of vier waterdraers van elke span op ’n tydstip op die veld was om by groepe spelers uit te kom.

Twee by die voorspelers en minstens nog een by die agterspelers.

’n Hand wat dan in die lug opgehou word, is aanduidend dat die boodskap helder en duidelik ontvang is.

Glen Jackson, wat die skeidsregter op Nuweland was, het ’n keer of wat spel probeer aan die gang kry deur die waterdraers van die veld te forseer.

Hy het hulle ook ’n keer belet om op die veld te kom.

Ten minste was dit een van die goeie dinge wat Jackson gedoen het.

Tot agt waterdraers word deur spanne langs die veld geplaas. Hierdie groepe waterdraers bestaan dan uit ’n span se fisioterapeut, ’n hulpafrigter, die dokter en by tye ook die skopafrigter.

Volgens reël 6.28 van Wêreldrugby mag slegs dokters en fisio’s die speelgebied sonder die skeidsregter se toestemming binnegaan, mits dit veilig is.

Water- en skopkegel-draers mag dit slegs doen wanneer daar ’n onderbreking in spel is tydens ’n besering of wanneer ’n drie gedruk is, en hulle mag dan nie met die skeidsregter inmeng nie.

Dalk moet rugby, soos ouboet sokker, alle ondersteunende personeel tot ’n span se tegniese gebied langs die veld beperk.

Blasers moet ‘akteurs’ vasvat
Freek Burger, voormalige Suid-Afrikaanse skeidsregtersbaas, sê die onderbrekings en gepaardgaande stormloop van die waterdraers op die veld is ’n bron van irritasie en erg ontwrigtend.

“Dit vereis dat skeidsregters die wedstryd moet bestuur,” sê Burger.

“Hulp vir die skeidsregter moet ook in die vorm van sy assistent-skeidsregters kom, maar soms gebeur dit nie.”

Volgens Burger is daar nie regulasies wat waterdraers verbied om drinkgoed op die veld te neem soos in sokker nie, maar daar moet dalk daarna gekyk word om hulle te beperk om dit nie te veel te doen nie.

“Jy sien niemand op die veld in sokker nie. Hulle sit in ’n hok en daar bly jy. Hulle staan nie aan die oorkant van die veld of agter die pale nie.

“Spel word onmiddellik gestop in sokker as daar ’n besering is sodat die mediese personeel bystand kan verleen.

“Dis die voordeel wat dokters en fisio’s in rugby het. Hulle kan op die veld hardloop terwyl die spel aan die gang is.

“Dit lei tot spelers wat soms beserings voorgee, baie kere net wanneer hul span aan die verdedig is. Nou begin dit die aanvallende span se ritme en konsentrasie versteur. Dis iets waarop skeidsregters baie streng moet wees.”

Volgens Burger is daar beserings waaraan medici moet aandag gee, maar hy sê dié spelers wat maak asof hulle beseer is net sodat daardie waterdraer met die boodskap kan opkom, moet uitgeroei word.

Sy mening is dat skeidsregters baie strenger daarteenoor moet optree, veral as dit die tempo van ’n wedstryd beïnvloed.

“As blaser kan jy baie vinnig oordeel of ’n speler werklik beseer is. Daar is hopeloos te veel onderbrekings en ouens wat die reëls in eie hande neem.”


Meer oor:  Freek Burger  |  Afrigters  |  Skeidsregters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.