Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Gee my ’n skeidsregter wat ’n stut was’

Hy wens partykeer dat iemand wat stut gespeel het ’n skeidsregter wil word, sê die Southern Kings-voorryman Schalk Ferreira.

Dié 36-jarige strydros gee toe dat hy soms erg gefrustreerd word oor beslissings wat skeidsregters by die vaste skrums maak.

Schalk Ferreira glo die Kings word nie genoeg deur skeidsregters beloon vir hul aanvallende skrumwerk nie. Foto: Gallo Images

“Dis vir my soms of hulle (skeidsregters) net kyk wie se elmboog eerste die grond tref en dan straf hulle daardie speler,” sê Ferreira.

“Jy moet eintlik kyk wie oorheers eers en wat is die effek daarvan. Ek dink hulle staar te veel na die elmboog.”

Ferreira verwys na die Kings se vorige wedstryd twee weke gelede teen die Scarlets in Wallis.

“Ons speel baie aanvallend met skrums. Werner Kruger (vaskopstut van die Scarlets) het nogal gevra: ‘Hel, gaan julle op elke skrum aanval?’” vertel Ferreira.

Die Kings se aggressiewe skrumwerk het hulle egter nie veel gehelp nie.

“Al oorheers ons. As daar twyfel is, kry die Europese span die voordeel. Ek weet nie of hulle witvoetjie soek nie.”

Maar, sê Ferreira, hy gaan nie eendag die stut wees wat ’n skeidsregter gaan word en alle voorrymanne breed gaan laat glimlag nie.

Schalk Ferreira van die Kings sal graag ’n skeidsregter wil sien wat in die voorry gesak het. Foto: Gallo Images

“Ek wil graag ’n afrigter word. Maar ek sal probeer om die skeidsregters ook af te rig,” sê hy.

Robbi Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter en ’n oud Springbok-stut, lag wanneer jy hom vra of dit nie tyd is vir ’n voormalige voorryman om die fluitjie op te neem nie.

“Ek is nie so seker of die stutte gaan kan byhou nie. Nie almal is so beweeglik soos Schalk nie!” sê hy.

Op ’n ernstiger noot sê hy dat hy probeer om soveel moontlik met skeidsregters te gesels en hulle op te voed in die geheime van voorryspel.

Hy sê skeidsregters is soms onseker wie skrum “in” of “skuins” en sommige skeidsregters is nie konsekwent wanneer hulle strafskoppe uitdeel nie.

“Die een keer sal hulle die een span net laat oorskrum as sy voorry byvoorbeeld ‘opstaan’ en die volgende keer sal hulle die ander span straf wanneer hulle dieselfde doen,” sê hy.

Die Kings oefen tans ter voorbereiding van hul volgende wedstryd volgende Saterdag teen Edinburgh in Port Elizabeth.

Meer oor:  Schalk Ferreira  |  Kings  |  Pro14
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.