Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Gee Ruan Combrinck kans op heelagter’
Breyton Paulse sê Ruan Combrinck is die ideale heelagter.Foto: Deaan Vivier
Warrick Gelant moet volgens Chester Williams in die toekoms as ’n Springbok-heelagter oorweeg word.Foto: Deaan Vivier

Ruan Combrinck en Warrick Gelant is die twee beste kandidate om heelagter vir die Springbokke te speel.

Dít was die mening van die gewese Bok-vleuels Breyton Paulse en Chester Williams toe Netwerk24 hulle Woensdag gepols het oor die Bokke se spankeuses vir die jaareindtoer na Brittanje en Italië.

Paulse, wat 26 drieë in 64 toetse gedruk het, glo die Leeus se Combrinck sal die perfekte opsie op heelagter wees.

“Ruan het destyds in Maties se Varsitybekerspan gereeld heelagter gespeel. Hy is iemand wat met sy linker- en regtervoet kan skop. Hy het die vermoë om vanaf die laaste vesting bresse te slaan, hy is vindingryk en kan teenstanders se aanvallende spel en verdediging vinnig opsom. Hy kan beslis vir Suid-Afrika ’n dodelike angel wees.”

Paulse glo die jaareindtoer is die perfekte geleentheid om Combrinck in die nr.15-trui te toets, veral met die Springbokke wat met nuwe diepte in die vleuel-departement spog.

“Ons het nou manne soos Sergeal (Petersen) en Jamba (Ulengo) wat ’n kans sal wil kry op vleuel en ek sal graag wil sien dat Allister vir Ruan op heelagter kans gee.

Paulse en Williams sê Bryan Habana vertolk ’n belangrike rol as mentor. Foto: Jaco Marais

“Ek dink hy bied tans die oplossing in daardie posisie. Willie (le Roux) is iemand wat op sy beste speel as hy selfvertroue het, maar wanneer sy selfvertroue laag is dan sukkel hy baie met sy spelpeil.

“Hopelik kom Willie weer op die toer tot sy reg kom, maar ek voel Ruan sal ’n baie goeie opsie wees.”

Volgens Williams, wat 27 keer vir die Bokke uitgedraf het, is Combrinck glad nie ’n slegte kandidaat vir die heelagter-poisisie nie.

Die Wêreldbekerwenner van 1995 voel egter ’n fikse en gesonde Warrick Gelant (Blou Bulle) moet in die toekoms as heelagter oorweeg word. Gelant herstel tans van ’n kniebesering.

Cheslin Kolbe (Westelike Provinsie) sal volgens die 46-jarige Williams ook ’n beter opsie op linkervleuel met Combrinck as regtervleuel maak.

“Die groot ding vir my is hoe jy as afrigter wil hê jou agterste driehoek moet speel. As ek my agterste driehoek kies, sal ek manne insluit wat kan aanval en (almal) takties goed kan skop.

“Daarom sal ek spelers soos Cheslin Kolbe op linkervleuel kies, Combrinck regs en, as hy nie beseer was nie, Gelant my heelagter maak.”

Chester Williams (links) en Breyton Paulse (regs) saam op die gholfbaan. Foto: Gallo Images

Paulse en Williams glo daar is ook genoeg rede om die veteraanvleuel Bryan Habana vir so lank as moontlik by Springbokrugby betrokke te hou.

Hulle meen dat Habana die rol van mentor vir jong vleuels soos Petersen, Ulengo en Combrinck moet speel.

“Die jaareindtoer is die perfekte tyd om iemand soos Bryan nog deel van die groep te hê. Sy rol gaan nou wees om seker te maak dat die vleuels wat nou daar is volgende jaar of die daaropvolgende een gereed is vir die uitdagings van internasionale rugby.

“Jy kan net ’n speler ervaring gee deur hom die kans te bied om in ’n span saam met ervare manne te speel,” sê Williams.

Paulse sê: “Mense wil Bryan afskryf, maar ons kan nie nou al daai ervaring van hom weggooi nie. As jy Bryan uit die span laat en jy tel dan die ervaring van die ander spelers in die agterlyn, gaan jy sukkel om meer as 30 toetse se ervaring bymekaar te skraap.

“Jy kort ’n ervare man in die span en ek dink Bryan het nog die honger om toetsrugby te speel. Sy rol op en van die veld af tydens dié toer gaan van kardinale belang wees.”

Meer oor:  Chester Williams  |  Breyton Paulse  |  Bokke  |  Ruan Combrinck  |  Warrick Gelant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.