Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geen blits ‘te klein’ ná Cheslin Kolbe
Cheslin Kolbe vier sy drie in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland. Hy het straks vir eens en vir altyd gewys dat rugbyspelers nooit as “te klein” geag moet word nie. Foto: Getty Images

Jy sal deesdae nie maklik ’n rugbygeesdriftige vind wat ruiterlik sal erken dat hy vir Cheslin Kolbe as “te klein” beskou het nie.

Maar die feit is dat baie van ons het. En ons is verkeerd bewys. Baie verkeerd.

Trouens, Kolbe het sy kritici só goed op hul neuse laat kyk, dat hy die inspirasie verskaf het aan meer van dié klein blitse om op die voorgrond te tree in die vyftienmanspel, soos Kurt-Lee Arendse die afgelope naweek vir die Bulle in hul Superfan-wedstryd teen die Haaie op Loftus Versfeld gedoen het.

Mzwandile Stick, hulpafrigter van die Springbokke en ’n oud-Blitsbok, is beïndruk met die manier waarop sewesspelers hulle op die vyftienman-verhoog laat geld. Foto: Gallo Images

Dis ’n jammerte dat Arendse sy vlug verpas het – om watter rede ook al – om die beseerde Seabelo Senatla in die Groenspan te vervang vir Saterdag se Springbok-proefwedstryd teen die Goudspan op Nuweland.

Maar dit was nietemin vir die Bok-hulpafrigter Mzwandile Stick, wat self diep spore in die verkorte weergawe van die spel getrap het – goed om opnuut bevestiging te kry van wat dié blitsbukse in vyftienmanrugby kan vermag.

“My hart is na aan die sewesspelers en dis goed om te sien dat daar ’n sterk verbintenis tussen hulle en die vyftienmanspel posgevat het,” sê Stick.

“Cheslin Kolbe kom uit daardie stelsel en is tans waarskynlik een van die beste rugbyspelers ter wêreld. Toe Rosko Specman by die Bulle was, het hy ook uitgeblink. So dis goed om te sien dat sewesspelers in die vyftienmanspel slaag.

“Onthou, in die verlede is sewesspelers dikwels op die agtergrond geskuif met die verskoning dat hulle te klein is. Daardie dae is iets van die verlede. Spelers met groot harte sal die geleenthede kry wat hulle verdien. Cheslin het gewys dat grootte nie saak maak nie.”

Angelo Davids het die Stormers se afrigter, John Dobson, in die voorseisoen op vleuel beïndruk. Foto: Gallo Images

John Dobson, die Stormers se afrigter, het ook onlangs die lof van die Blitsbok Angelo Davids besing, wat tans vir die Kaapse span speel.

’n Paar seisoene gelede het Dobson ook groot waardering gehad vir die professionalisme van Blitsbokke soos Ruhan Nel en Werner Kok.

“As jy kyk na die vaardighede van die sewesspelers en hul ingesteldheid, is dit soortgelyk aan hoe ons dinge by die Bokke doen. Wanneer dit by spankeuses kom, word daar oor ‘krygers’ gepraat – iemand wat alles tussen die vier lyne sal insit,” sê Stick.

Arendse was aanvanklik nie onder die 93 spelers waaruit die Groen- en Goud-spanne gekies is nie, maar het veral met sy langafstanddrie vir die Bulle in die oorwinning van 49-28 oor die Haaie gewys hoeveel daar in hom steek.

“Kurt-Lee het bewys dat ons as Bok-afrigters nie altyd die perfekte besluite of spankeuses maak nie,” sê Stick.

“Hy het geskitter met die geleentheid wat hy by die Bulle gekry het. Ek ken hom goed as ’n sewesspeler, so ek was beïndruk met hom oor die naweek. Daarom was hy ’n maklike keuse toe Seabelo Senatla beseer is.

Die Blitsbok Kurt-Lee Arendse het die afgelope naweek vir die Bulle in hul Superfan-wedstryd teen die Haaie uitgeblink. Foto: Gallo Images

“Ek sou hom baie graag in hierdie wedstryd in aksie wou sien, maar het verneem dat hy nie sy vlug gehaal het nie.”

Uit Bulle-geledere is gesê dat daar ’n misverstand was en dat Arendse baie gretig is vir geleenthede soos daar vir hom in Saterdag se wedstryd op Nuweland kon wees.

Stick sê hy ken nie die omstandighede rakende die verpaste vlug nie, maar voeg by dat die deur nie nou onbepaald vir Arendse toegeswaai het nie.

“Die lewe gaan oor geleenthede. Dalk was dié nie die regte tyd nie, maar die deur is nie vir hom toe nie,” sê hy.

“Ek weet dat hy goed sal vaar wanneer hy vir die Bulle speel en wanneer ons weer die kans kry om aan hom ’n geleentheid te gee, sal ons waarskynlik so maak. Ek kan egter niks belowe nie,” sê Stick.

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Groen En Goud  |  Springbok-Proewe  |  Bokke  |  Mzwandile Stick  |  Springbokke  |  Kurt-Lee Arendse  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.