Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geen einde aan 'Wilde' Willie Bower nie

Op 46-jarige ouderdom is daar nog steeds geen einde aan die voormalige Oostelike Provinsie- en Boland-breker “Wilde” Willie Bower se rugbyloopbaan nie.

Hou bene, hou! Op 46-jarige ouderdom is daar nog geen einde van Willie Bower se rugbydae nie. Hier is hy vir Vergt in aksie.

Bower bevind hom tans in Frankryk, waar hy die afgelope seisoen as flank of slot die klubspan Vergt gehelp het om die seisoen onoorwonne af te sluit. Geen uitspeelwedstryde was weens die Covid-19-pandemie moontlik nie.

“Elke seisoen is die laaste een. Tot oefeninge weer begin. Dan koop hy maar nuwe tokse en sê ‘as my tokse stukkend is, hou ek op’. En dan speel hy maar weer,” vertel Bower se vrou, Anje.

Die Bowers woon nou al vir byna drie jaar op ’n plaas naby die dorpie Vergt.

Frankryk is tans al vir amper vir vier weke in ’n staat van inperking. Nog twee weke wag.

Volgens Anje werk Bower egter voort as voorman. Hy moet seker maak dinge op die plaas verval nie en hy moet ook ’n ogie hou oor die agt gastehuise op die plaas.

’n Terugflits na 2007: Willie Bower in aksie vir die OP teen die SWD-Arende. Foto: Die Burger

Anje doen administratiewe werk vir ’n ingenieursmaatskappy en die Bowers se dogters, Andeline (12) en Marni (9) is nog op skool.

Bower het sy debuut in 2002 vir die OP gemaak en het eindelik 53 wedstryde vir die span gespeel.

Hy het ook ’n draai in die Boland gemaak waar hy 21 wedstryde vir die Kavaliers gespeel het.

“Ek het ook in 2008 in Sicilië vir Amatorie Catania gespeel en was vir ongeveer drie jaar by Perigueux in Frankryk.”

Ná sy tyd by Perigueux (2012) is Bower terug Oos-Kaap toe waar hy onder andere vir Trying Stars van Alexandrië uitgedraf het.

Maar Frankryk het weer gewink en tans is die Bowers – ten spyte van die Covid-19 pandemie – nog baie gelukkig daar.

Kaptein Geelkaart? Bower en Os van der Walt deel ’n grappie terwyl hulle in 2007 saam in die koelkas sit gedurende ’n wedstryd teen die Wildebeeste in die ou Boet Erasmus-stadion. Foto: Die Burger

“Ek verstaan die taal heeltemal. My tong knoop nog soms met die praatslag, maar ek kan myself help,” sê Bower. “Ons twee dogters is vlot in Frans en hulle help wanneer ek vashaak.”

Die ou grote vat die stampe en stote van rugby steeds met ’n glimlag.

“Ek geniet steeds elke oomblik. Behalwe die oefeninge in die winter, wanneer dit nat en koud is,” sê hy.

In Suid-Afrika was hy gereeld in die moeilikheid oor sy rowwe manier van rugby speel.

Bower se hare het die laaste klompie jare al minder geraak en nou word sy baard boonop grys! Maar hy speel nog steeds ’n hond uit ’n bos en vele jonger manne kan maar net droom om so fiks soos hy te wees.

Daar was ’n tydperk in 2009 toe hy die OP aangevoer het. Hy het egter in byna elke wedstryd ’n geelkaart gekry en is toe deur een van die Port Elizabethse koerante “Kaptein Geelkaart” gedoop.

Anje verklap dat die beskeie Bower die afgelope twee seisoene een van sy span se grootste driedrukkers was.

“Willie is die rugbykoning hier, al sal hy dit nooit erken nie. Almal is mal oor hom en hy speel elke wedstryd sy hart uit,” sê sy.

Die rugbytjek is nie meer so groot soos dit by Perigueux was nie, maar dit help glo darem om die “petrol” te betaal.

Meer oor:  Frankryk  |  Koronavirus  |  Klubrugby  |  Op  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.