Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geen geld vir Valke-spelers se salarisse

Die Valke se gekontrakteerde spelers het Vrydagoggend die skoknuus ontvang dat dié rugbyunie nie hul salarisse vir Julie sal kan betaal nie.

Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers. Foto: Verskaf

MyPlayers, die liggaam wat Suid-Afrika se beroepsrugbyspelers verteenwoordig, het in ’n nuusverklaring bekendgemaak dat die Valke hom Donderdag oor die stand van sake in kennis gestel het.

“Ons het Vrydagoggend ’n aanlyn vergadering met die Valke se spelers gehad om hulle in kennis te stel. Die vergadering is ook bygewoon deur Ettienne de Lange, uitvoerende hoof van die Valke Rugbyunie en verteenwoordiger van die maatskappy,” het Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers, in ’n nuusverklaring gesê.

“Terwyl dit baie laat in die dag en die maand is om sulke verreikende besluite aan te kondig, ag ons Ettienne se bydraes as konstruktief en insiggewend. Spelers is ook die geleentheid gegun om hul kommer – oor hul onmiddellike en ook die verdere toekoms – uit te spreek.”

MyPlayers gaan die spelers nou as volg ondersteun:

• Bystand met skuldberading.

• Ondersteuning en hulp met Werkloosheidversekeringsfonds-aansoeke.

• Onmiddellike verligting vir dag-tot-dag- huishoudelike behoeftes uit ’n fonds wat vir dié doeleindes gestig is.

• Toegang tot ’n prokureur om spelers individueel te help.

• Briewe aan spelers se krediteure.

MyPlayers sê hy gaan oor die volgende paar dae met De Lange, die bestuur van die Valke se maatskappy en die unie saamwerk om die kwessie op te los, en te verseker dat spelers betaal word. Daar sal Dinsdagoggend weer met die spelers vergader word.

Dis nie net op spelersvlak waar dit by die Valke lol nie.

Sport Employees Unite, die vakbond wat werknemers verteenwoordig, het die Valke se maatskappy Woensdag in ’n verklaring bygekom omdat personeel se salarisse nie betaal is nie. Werknemers word as ’n reël op die 25ste van die maand betaal.

“Al ons lede het debietorders wat moet afgaan. Was hulle vroeër in kennis gestel oor die Valke se finansiële posisie, sou hulle tyd gehad het om met banke en krediteure reëlings te tref,” het Piet Heymans, uitvoerende hoof van Sport Employees Unite, gesê.

“Die koste van debietorders wat nie deurgegaan het nie gaan duisende rand beloop en ons gaan dit van die Valke eis. Ons gaan ons regsopsies in oënskou neem en alles binne ons mag doen ten gunste van ons lede.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.