Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wêreldrugby swyg oor Rassie-video

Die video van Rassie Erasmus en Jacques Nienaber wat vir André Esterhuizen by ’n Springbok-oefening in Parys leer om die “Owen Farrell-skouerloop” uit te voer, het kommentaar uit ’n magdom oorde ontlok.

Die spel se beheerliggaam, Wêreldrugby, is nié een van dié oorde nie.

“Nodeloos om te sê, sal ons geen kommentaar oor die video lewer nie,” was al wat Dominic Rumbles, Wêreldrugby se kommunikasiehoof, Dinsdag aan Sport24 gesê het.

André Esterhuizen trek soos ’n vrot vel deur die lug nadat Owen Farrell (regs) hom geskouerloop het in die doodsnikke van Saterdag se toets op Twickenham. Foto: Reuters

Erasmus, die Bok-breier, het ná Saterdag se toets tussen Suid-Afrika en Engeland op Twickenham, wat Engeland met 12-11 gewen het, op ’n sarkastiese wyse geantwoord toe hy oor dié duikslag in die doodsnikke van die wedstryd uitgevra is.

Farrell het Esterhuizen met die skouer geloop, maar die blaser, Angus Gardner, het beslis dié stukkie spel het binne die reëls van die spel geskied en die eindfluitjie is geblaas.

“As dit wettig is, moet ons dit ook begin doen, want dit is duidelik baie doeltreffend,” het Erasmus ná die toets gesê. Erasmus en sy verdedigingsafrigter, Nienaber, het Dinsdag die daad by die woord gevoeg en vir Esterhuizen “geleer” hoe om soos Farrell te duik.

’n Video van dié oefening, wat duidelik bedoel is om ’n dwarsklap na Wêreldrugby te mik weens sy versuim om teen Farrell of Gardner op te tree, is wyd op sosiale media versprei.

Wêreldrugby wou ook nie sê of Erasmus die gevaar loop om gestraf te word vir dié video nie.

André Esterhuizen tydens ’n Bok-oefening in Parys. Foto: Gallo Images

Volgens ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie is die video nie deur ’n lid van die Springbok-bestuurspan geneem nie.

Mzwandile Stick, een van die Bokke se hulpafrigters, wou ook nie Dinsdag kommentaar lewer oor die video nie. Ook nie die binnesenter Damian de Allende nie.

Intussen het die voormalige Engelse losskakel Andy Goode ’n pleidooi gelewer dat Wêreldrugby ’n verklaring oor Farrell se duikslag uitreik.

Goode glo die Bokke moes ’n strafskop gekry het.

“Daar is baie verwarrende opinies daaroor, maar dit is nie ’n hoë duikslag nie. Hy het nie kontak gemaak met die kop nie, so dit is nie ’n oortreding wat met ’n rooikaart gestraf kon word nie. Hy kan dus nie daarvoor uitgewys word nie,” skryf Goode op Rugbypass.com.

“Dit moes wel ’n strafskop gewees het en ek dink dit moes ’n geelkaart gewees het omdat daar geen arms in die duikslag was nie.

“Ek is seker ’n strafskop sou toegeken geword het as dit in enige ander minuut van die wedstryd was, maar die horlosie was in die rooi en dit bemoeilik sake, al hoort dit nie so nie.

“Dit het soveel debatte ontketen en ek dink Wêreldrugby moet ’n verklaring daaroor uitreik.”

– Sport24

Meer oor:  Bokke  |  André Esterhuizen  |  Skouerloop  |  Springbokke  |  Owen Farrell  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.