Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geen kontrak het Werner nie gekeer
Werner Kruger gedurende ’n oefensessie van die Ligbloues in 2010 in Pretoria. Foto: Gallo Images

Toe die oud-Springbok Werner Kruger destyds die skoolbanke verlaat het, het hy anders as wat omtrent vandag die norm is, nie ’n kontrak gehad nie.

Kruger (36), ’n vaskopstut, het vandeesweek aangekondig dat hy sy rugbystewels aan die einde van die Europese seisoen gaan wegpak.

Jy sal dink iemand wat in sy loopbaan vir die Springbokke gespeel, 120 keer vir die Bulle uitgedraf en in 2009 en 2010 die Superrugby-reeks saam met die Ligbloues gewen het, sou reeds as skoolseun ’n kontrak in die agtersak gehad het.

Nie Kruger nie, ten spyte daarvan dat hy in 2002 en 2003 die Valke op die Cravenweek-toernooi verteenwoordig het.

Werner Kruger gedurende ’n oefensessie van die nasionale span in 2011 in Sydney, Australië. Foto: Gallo Images

“Ashley Evert (wat destyds die Bulle se junior spanne gebrei het) het my ná skool genader. Ouens gaan mos direk van Cravenweek af in die stelsel (by unies) in. Ek het nie so ’n geleentheid gehad nie,” sê Kruger vandeesweek uit Brittanje.

Hy speel die afgelope paar jaar vir die Walliese klubspan die Scarlets – wat hy ook al meer as 100 keer op die rugbyveld verteenwoordig het. Dít nadat hy benewens sy meer as 100 verskynings vir die Pretorianers in Superrugby ook 134 keer vir die Blou Bulle in ander kompetisies gespeel het.

Evert, deesdae spanbestuurder van die Blitsbokke, onthou dat hy destyds rondgesoek het na ’n vaskopstut.

“Een van die spelers het my ’n ou se nommer gegee en voorgestel dat ek hom bel. Dit was Werner en ek het hom gevra of hy ’n draai kan maak.

“Sy woorde aan my was: ‘Ek kan nou kom.’ Ek dink dit was letterlik 40 minute later toe stop hy by Loftus Versfeld,” sê Evert.

Kruger het aan die Hoërskool Jeugland in Kempton Park gematrikuleer en vertel dat hy as kind van ’n Bulle-trui gedroom het.

Dit was beslis my droom om vir die Bulle en Bokke te kan speel. Om dit te bereik en meer as 100 wedstryde vir die Bulle te speel, het egter alle verwagtinge oortref.
Werner Kruger

“ ’n Ou het altyd drome. Dit was beslis my droom om vir die Bulle en Bokke te kan speel. Om dit te bereik en meer as 100 wedstryde vir die Bulle te speel, het egter alle verwagtinge oortref.

“Ek was bevoorreg en dit was deur die Here se genade dat ek dit kon bereik én die talent gehad het,” sê Kruger.

Werner Kruger en Pierre Spies met die Superrugby-trofee toe die Bulle die Chiefs in 2009 in die eindstryd in Pretoria geklop het. Foto: Gallo Images

Van die hoogtepunte wat hy uitsonder in sy loopbaan is toe hy sy buiging vir die Springbokke gemaak het. Hy het die nasionale span in vier toetse tussen 2011 en 2012 verteenwoordig.

Ook die twee keer wat hy deel van die Bulle-span was wat die Superrugby-kroon gewen het.

“Veral die tweede een in die Orlando-stadion (in Soweto in 2010) staan uit, omdat dit heeltemal ’n ander ervaring was.

“Laagtepunte was toe ek in 2012 ’n goeie seisoen gehad het en vir die Bokke gespeel het. Engeland was hier vir ’n reeks en toe word ek uit die Bok-groep gelaat,” sê Kruger.

“Uit die aard van die saak is dit buite ’n mens se beheer. ’n Mens se peil gaan op en af, maar daardie tyd was dit ’n groot laagtepunt. As ek nou terugkyk, het dit my laat reset en opnuut laat fokus, om weer te veg en aan te gaan.”

Wie was die moeilikste voorry teen wie Kruger geskrum het?

“Toe ek by die Bulle was, het die Haaie se voorry uit die twee Du Plessis-broers, Jannie en Bismarck, en Beast (Mtawarira) bestaan. Ek voel altyd ’n stut kan nie op sy eie werk nie, dit gaan oor die kombinasie van die hele voorry.

“Hulle was altyd vir ons ’n massiewe uitdaging. Ons het altyd geweet ons moet ’n Plan A en B hê om effektief teen hulle te wees en die gewenste uitslag te verseker.”

Hulle was altyd vir ons ’n massiewe uitdaging. Ons het altyd geweet ons moet ’n Plan A en B hê om effektief teen hulle te wees en die gewenste uitslag te verseker.
Werner Kruger

Hoewel Kruger uitsien na sy nuwe loopbaan as finansiële adviseur wanneer hy en sy gesin later vanjaar na Suid-Afrika toe terugkeer, weet hy die aanpassing gaan nie maklik wees nie.

“ ’n Mens besef dat dit (sy rugbyloopbaan) nou op ’n einde kom. Dit is al wat ek vir die grootste gedeelte van 15, 16 jaar geken het. Maar ek moet sê, ek het my beurt gehad,” sê Kruger.

“Ek voel ek het regtig my kant gebring. Ek sien uit na die volgende hoofstuk en dit wat voorlê in die toekoms. Dit gaan altyd ’n bietjie van ’n uitdaging wees om iets nuut aan te pak.”

Meer oor:  Werner Kruger  |  Pretoria  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Flank  |  Bulle  |  Superrugby  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.