Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geen paniek in Bul-kamp, sê Pote

Daar is nou groot druk op sy span in Nieu-Seeland, maar niks is onmoontlik nie.

Dit is die boodskap van Pote Human, die Bulle-breier, kort ná die Pretoriase span se aankoms gister in Auckland.

Die Bulle-skrumskakel Embrose Papier word deur die Brumbies se Henry Speight gestuit in dié spanne se kragmeting in Canberra. Foto: Getty Images

Oor die besoekers se prulwerk teen die Brumbies in Canberra, wat op ’n nederlaag van 10-22 uitgeloop het, skud Human sy kop.

“Ons voorbereiding was so goed en ons het genoeg selfvertroue gehad ná die wen teen die Rebels.

“Daar was net te veel individuele foute, veral op die verdediging. Dit is baie teleurstellend.”

Human sê die Bulle het op kritieke tye die kluts kwytgeraak.

In die eerste helfte byvoorbeeld het die besoekers die Brumbies onder groot druk gehad, maar die Wallaby-slot Rory Arnold het in die vierde agtereenvolgende lynstaan op sy span se doellyn die bal voor RG Snyman se neus weggeraap.

“Dan is daar ook die strafskop wat ons by ’n skrum afgestaan het op hulle doellyn. Daar was hope kanse.

“Ons was teen rustyd (12-10 in die Brumbies se guns) nog in die wedstryd, maar ons het onsself lelik in die steek gelaat daarna.”

Desperate tye wag nou in Nieu-Seeland, waar die Bulle afsprake met die Blues en die Highlanders het.

“Daar is nie ’n gevoel van paniek in die groep nie, maar daar is nou geweldig baie druk op ons.

“Ons kan nie nóg so ’n vertoning bekostig nie en dit is nou reg of weg.”

Human sê hulle gaan die Springbokke Handré Pollard en Duane Vermeulen mis.

“Duane speel ’n groot rol voor en hy sal beslis ’n leemte laat.

“Dit was egter altyd die plan dat Pollie en Duane sou terugkeer huis toe.”

Vermeulen het in die tweede helfte die veld met ’n nekbesering verlaat en daar is aanvanklik aangedui dat hy ’n draagbaar benodig.

Human het gesê die besering lyk nie ernstig nie.

“Dit is nie ’n langtermynbesering nie, maar dit is belangrik dat hy nou goed uitrus.”

Die flank Ruan Steenkamp is intussen ontbied om hom by die groep aan te sluit.

Hanro Liebenberg is die gunsteling om Vrydag op Edenpark agter die skrum te sak teen die Blues.

Paul Schoeman, wat saam met Liebenberg van die min uitblinkers was teen die Brumbies, kan ook in dié posisie oorweeg word.

Human sê die Bulle sal daarop uit wees om groter slaankrag op die aanval te hê.

“Ons kan nie nou in ons doppe kruip nie. Geen span gaan in Nieu-Seeland sukses behaal deur versigtig te speel nie. Ons moet eenvoudig ’n manier vind om te wen. Niks is onmoontlik nie.”

  • Punte:
  • Tevita Kuridrani (3), Irae Simone. Doelskop: Christian Lealiifano.
  • Hanro Liebenberg. Strafdoel: Manie Libbok. Doelskop: Libbok.
Meer oor:  Bulle  |  Pote Human  |  Nieu-Seeland  |  Auckland  |  Druk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.