Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Geen Pieter-Steph vir Stormers’

Die Leeus het een ding minder om hulle oor te bekommer voor Saterdag se Reënboogbeker-rugbywedstryd teen die Stormers op Ellispark met die nuus dat Pieter-Steph du Toit waarskynlik nie gaan speel nie.

John Dobson, die Kapenaars se afrigter, kondig sy span eers Vrydag aan, maar Netwerk24 het betroubaar verneem dat Wêreldrugby se huidige Speler van die Jaar dié week rus.

Pieter-Steph du Toit gaan na verwagting die Stormers se wedstryd teen die Leeus in sy sitkamer kyk. Foto: Gallo Images

Vir Dobson is dit nie die spreekwoordelike treinongeluk nie, want die leenspeler van die Pumas, Willie Engelbrecht, kan maklik as nr. 7-flank ingespan word.

Juarno Augustus is blykbaar ook weer fiks, maar ’n plek op die plaasvervangersbank behoort hom eerder beskore te wees. Evan Roos het as agtsteman verlede naweek teen die Bulle ’n barshou gespeel en op daardie spelpeil gaan dit vir Augustus lol om hom uit die kussings te lig.

Dit gaan Dobson waarskynlik ook nou loon om toekomsgerig met sy spankeuses te wees. Augustus verruil die Westelike Provinsie in Julie vir die Engelse klub Northampton. Daar is ook sprake daarvan dat Du Toit ná Oktober Japan toe gaan, maar dis nog nie bevestig nie.

Willie Engelbrecht sal in Du Toit se afwesigheid ’n sterk aanspraakmaker op die Stormers se nr. 7-trui wees. Foto: Gallo Images

Met dit in gedagte sal dit nie verbaas indien die WP poog om Engelbrecht heeltyds te kontrakteer nie.

Die stukkie besigheid wat Dobson met Roos gedoen het, begin ook al hoe meer na ’n meesterskuif lyk. Hy is vroeër vanjaar deur die Haaie aan die WP geleen en is sedertdien heeltyds in die Moederstad gekontrakteer nadat ’n oordragfooi van R1 miljoen vir Siya Kolisi se skuif Durban toe ontvang is.

Dobson se fokus is ook nou om losvoorspelers met hoë werkverrigting te kies. Dit is ongelukkig iets wat soms in Augustus se spel ontbreek.

Daar is vandeesweek in ’n nuusverklaring gesê dat Augustus graag oor twee seisoene wil terugkeer. Of die WP gaan belangstel, sal waarskynlik afhang van hoe hy in daardie faset verbeter.

Elders voorlangs sal die Stormers se groot uitdaging wees om in JD Schickerling en Marvin Orie se afwesigheid die lynstaanbesit te beveilig. David Meihuizen, ’n onervare hemelbesem, gaan waarskynlik met die lynstaantekens getaak wees en behoort dinge eenvoudig te hou.

Agterlangs het die Stormers verlede naweek teen die Bulle gesukkel. Benewens die feit dat baie meer van Abner van Reenen op losskakel verwag word, ontbreek daar ook ’n bietjie slaankrag in die middelveld. Meer word ook van die kombinasie van Rikus Pretorius en Dan du Plessis verwag. Ruhan Nel word gemis nadat hy hom by die Blitsbokke aangesluit het, maar Du Plessis het baie potensiaal en kan ’n bate op die aanval wees.

’n Groot vraag voor Vrydag se spanaankondiging is of Ali Vermaak fiks gaan wees. Steven Kitshoff is só goed dat die lof van die loskopveteraan onder sy vlerke nie altyd erkenning kry nie.

Die Stormers kan nie vir Kitshoff van begin tot einde in die rooi druk nie en Vermaak bied vir hulle die beste geleentheid om enduit met die druk aan daardie kant van die skrums te volhard.

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Leeus  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.