Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geen uitkomkans vir WP, sê Flyt

Daar is vir die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRU) geen uitkomkans uit die kontrak wat hy met Flyt Property Investment beding het vir ’n eiendomsontwikkeling by die Nuweland-stadion nie.

Flyt het dié standpunt ingeneem ná ’n lang direksievergadering Vrydag waar uitlatings deur Zelt Marais, die WPRU se president, oor “opskortende voorwaardes” wat nagekom moet word, bespreek is.

“Die ooreenkoms is onderteken, kontant betaal en effekte geregistreer. Na my wete is daar geen terugkeer nie en almal sien uit na ’n wedersyds voordelige ontwikkeling,” het Dennis Venter, een van die beleggers in Flyt, in ’n boodskap aan Rapport gesê.

Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt, het ook aan Rapport gesê hy dra nie kennis van opskortende voorwaardes nie.

“Die leenooreenkoms en ooreenkoms tussen Flyt Property Investment en die WPRU vir die ontwikkeling van die Nuweland-stadion en Brookside-eiendomme is in Julie 2020 afgehandel,” sê De Decker.

“Daar was geen voorwaardes verbonde aan die ooreenkoms nie en die lening van R112 miljoen is op 14 Julie oorbetaal aan die WPRU, wat op hul beurt hul skuld by Remgro en Investec vereffen het.

Zane de Decker

“Die ontwikkelingsmaatskappye Nuweland en Brookside, waarin Flyt en die WPRU ’n gelyke aandeel het, is ook gestig om die vereiste beplanningsgoedkeurings vir albei eiendomme te verkry. Ons gaan voort met ons planne met die WPRU om die inherente waarde in die eiendomme te ontsluit. Dit sal ook die volhoubaarheid van die WP verseker.”

Toe Marais vandeesweek op ’n aanlyn nuuskonferensie gevra is om die “voorwaardes” te verduidelik, het hy gesê dit vorm deel van die “noulettendheidsondersoek”. Hy kon nie verduidelik waarom hulle drie maande nadat die hoofraad van die WPRU die ooreenkoms goedgekeur het, nog met ’n noulettendheidsondersoek besig is nie.

Die WPRU het reeds ’n slegte reputasie nadat hy weggestap het van ’n ontwikkelingsooreenkoms met Investec vir die Nuweland-stadion. Nou lyk dit asof hy dieselfde met Flyt probeer doen.

Dit kom ná ’n week van drama waar nóg twee onafhanklike direkteure – Hennie Heymans en Suzanne Stevens – uit die direksie van die WPRU se sakevleuel bedank het. Hulle verteenwoordig onderskeidelik die borge DHL en BrightRock.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die sakevleuel, het ondanks daardie verwikkeling ’n rooskleurige prentjie probeer skets.

Daar is aantygings dat die WPRFU ontslae wil raak van diegene wat teen Marais uitpraat. Hy het sy mag die afgelope week gekonsolideer en ingeligtes praat reeds van die “volgende teiken”: Spencer King, die vise-president van die unie.

Die WPRU het tans nie ’n uitvoerende hoof nie omdat Marais die enigste oorblywende lid is van die vierman-komitee wat die unie bestuur nadat Paul Zacks bedank het. Kevin Kiewitz en Raymond van Niekerk het as direksielede bedank, terwyl André van der Veen se termyn nie hernieu is nie.

Van Niekerk het uit protes bedank nadat Van der Veen en dr. Johan van der Merwe se termyne nie hernieu is nie.

Een van die voormalige onafhanklike direkteure het die direksievergaderings as ’n “sh*tshow” beskryf.

Die enigste oorblywende onafhanklike direkteur is Makkie Isaacs. Buiten Rasool is daar nou slegs lede van die WP se amateurarm in die direksie.

Een van die voormalige onafhanklike direkteure het die direksievergaderings as ’n “sh*tshow” beskryf. Van Niekerk – wat voorheen die internasionale bemarkingshoof van Investec was, het aan Rapport gesê die WPRU-lede in die direksie is “die onindrukwekkendste mense met wie ek tot nog toe gewerk het.”

Marais kan wel nie Heymans se pos in die direksie vul nie, want DHL het ’n klousule in sy kontrak wat hom toelaat om ’n direksielid aan te stel.

Intussen sloer die moontlike belegging met die Amerikaanse konsortium MVM Holdings steeds, met Rasool wat vandeesweek aangekondig het dat die WPRU sal wag om volgende maand van aangesig tot aangesig met MVM se Marco V. Masotti te praat wanneer hy glo in Suid-Afrika gaan wees.

Die WPRU wil nie beheer oor rugbysake aan die beleggers oorgee nie.

Rasool se stelling dat WP ook met “ander beleggers” praat, is strydig met Heymans se uitlatings aan Rapport se susterskoerant Die Burger dat MVM se aanbod die enigste op die tafel is.

Meer oor:  Kontrak  |  Voorwaardes  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Flyt Property Investment
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.