Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geen virus-veldbrand by Ellispark
Rob Collins, die Leeus se spandokter. Foto: Gallo Images

Die ses positiewe Covid-19-gevalle wat verlede week by die Leeus aangemeld is, was nie te wyte aan ’n massa-uitbreking van die koronavirussiekte by Ellispark nie.

Dit is die mening van Rob Collins, Leeus se spandokter, Woensdagmiddag nadat die Johannesburgers die blye tyding gekry het dat hulle Vrydag mag optôk om Griekwas te pak.

Almal wat Dinsdag by Ellispark getoets is, het negatiewe uitslae gekry, sodat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) gemaklik daarmee was om die groenlig vir dié Superrugby Unlocked-kragmeting te gee.

“Wat ons hier gesien het, was dat een speler begin simptome wys het, en ’n ander speler die siekte waarskynlik by hom gekry en positief getoets is,” sê Collins.

“Toe toets nog twee spelers positief, en ek vermoed dit was valse positiewes – dalk, dalk nie – want hulle is albei asimptomaties. Maar ná daardie vier uitslae moes ons (verlede Vrydag) nog toetse doen, en nadat dit ook twee positiewe uitslae opgelewer het, was daar vrese dat daar ’n uitbreking van die virus by Ellispark is.

Twee van die gevalle kan direk met mekaar verbind word, aangesien hulle in ’n saamryklub is, maar die ander vier is positief getoets soos enige ander persoon ter wêreld kan positief toets.
Rob Collins

“Daar is intussen vasgestel dat dit nie die geval is nie. Twee van die gevalle kan direk met mekaar verbind word, aangesien hulle in ’n saamryklub is, maar die ander vier is positief getoets soos enige ander persoon ter wêreld kan positief toets. Omdat ons siftingstoetse doen, kan ons dalk meer positiewe uitslae optel,” sê hy.

Met die vrees vir ’n koronavirus-veldbrand in die kiem gesmoor, kon die Leeus Woensdag al hul aandag vestig op hul voorbereiding vir die stryd met Griekwas.

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus. Foto: Gallo Images

En meer tevrede kon Ivan van Rooyen, hul afrigter, nie wees met sy span se gesindheid nadat hulle Woensdag uiteindelik hul eerste oefensessie van die week gehad het nie.

“Ons het van die begin van die week af gesê daar is nou ’n groot uitdaging voor ons en ons sal moet aanpas. Maar ek kan die spelers nie genoeg lof toeswaai nie.

"Hulle is almal sielkundig gesproke in ’n goeie plek, hulle weet wat hulle mag en nie mag doen nie en hulle verstaan wat ons in hierdie wedstryd wil vermag. Almal het werklik goed aangepas en die spelers se energie en entoesiasme is ’n riem onder die hart.”

Elton Jantjies, wat herstel het van die kuitbesering wat hom uit die afgelaste wedstryd teen die Cheetahs sou hou, neem weer die leisels teen Griekwas. Hy is Woensdag gevra of dit moeilik vir die spelers was om positief te bly te midde van soveel onsekerheid, maar het min vat aan dié idee gehad.

“As jy vir sewe maande in inperking was, moet jy positief bly as jy weer vir twee of drie dae in ’n soortgelyke situasie is,” sê hy.

“Dit wat hier gebeur het, moet nou agter ons gesit word. Hierdie is vir ons ’n nuwe geleentheid om sake weer in orde te kry. Ons is geseënd.”

Dit wat hier gebeur het, moet nou agter ons gesit word. Hierdie is vir ons ’n nuwe geleentheid om sake weer in orde te kry. Ons is geseënd.
Ivan van Rooyen

Wat die Griekwas betref het Van Rooyen gesê dit was in die Poubloues se wedstryd teen die Bulle duidelik hulle is ’n span van gehalte.

“Hulle sal wil regstel wat verkeerd geloop het in (hul volgende) wedstryd teen die Pumas en sal hierdie as ’n goeie geleentheid beskou omdat ons so ontwrig was. Maar ons het (in die Pumas se wedstryd teen die Stormers) gesien elke span in hierdie kompetisie kan platgetrek word. Ek verwag ’n goeie wedstryd.”

Meer oor:  Ivan Van Rooyen  |  Kimberley  |  Johannesburg  |  Unlocked-Reeks  |  Leeus  |  Covid-19  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.