Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Geiser’ wil bly kook in Pro14-reeks
Reinach Venter in aksie in die Curriebeker-reeks verlede seisoen.Foto: Gallo Images

Noudat hy ’n ordentlike proesel van Pro14-rugby gehad het, wil die haker Reinach Venter seker maak dat hy ’n gereelde gesig in die 23-tal word.

“Geiser”, soos die 24-jarige Venter onder sy spanmaats bekend staan, het in die Cheetahs se Pro14-wedstryd teen Zebre vroeër dié maand sy eerste drie in sy drie Pro14-wedstryde gedruk. Dit was terloops ook die Cheetahs se bonuspuntdrie.

Hy was teen die Italianers die plaasvervanger-haker en het nie eers geweet dat hy die bonuspuntdrie gedruk het nie.

“Ek weet net ek het een van die drieë gedruk, dis al,” het hy ná ’n kort, maar uitmergelende oefensessie in toestande van ver bo die 30 °C gesê.

Dit (wen met ’n bonuspunt) was egter die begin van die doelwit wat die Cheetahs vir hulself gestel het vir die eerste vier wedstryde van die jaar, verklap Venter.

Die Cheetahs speel in die Pro14-reeks twee keer teen die Italianers en twee keer teen die Southern Kings.

“Ons het dié wedstryde uitgesonder om 20 ligapunte daaruit te verdien. Ons het vir onsself gesê ons kan die vierde plek inneem as ons dit regkry.

Wat belangrik is, is dat ons die momentum behou wat ons in die eerste wedstryd Vrydag teen die Kings in Port Elizabeth opgebou het.
Reinach Venter

“Ons wil egter nie dinge vooruitloop nie. Wat belangrik is, is dat ons die momentum behou wat ons in die eerste wedstryd Vrydag teen die Kings in Port Elizabeth opgebou het,” sê Venter.

Joseph Dweba is tans die eerstekeuse-haker, met Jacques du Toit wat las van ’n kniebesering het en eers van die einde van die maand af weer oorweeg kan word.

Elandré Huggett

Die ander haker in die groep wat in Venter se nek blaas, is Marnus van der Merwe. Dan is daar nog ook Elandré Huggett, wat Saterdag teen die Shimlas ook die eerste keer ná twee knieoperasies na die veld teruggekeer het.

“Die mededinging onder hakers maak dat jy elke keer wanneer jy speelkans kry, jou beste moet lewer.

“Dit is daarom belangrik dat ek nou vergeet van die drie en net my beste teen die Kings lewer as ek speelkans kry.”

Venter het slegs ’n enkele Superrugby-wedstryd gespeel en kan nie juis vergelykings tref tussen dít en die Pro14-reeks nie, maar sê hy het genoeg gesien om te kan weet wat die verskille is.

“In die Superreeks kon jy dalk nog daarmee weggekom het as jy ’n fout maak, maar ek het gesien as jy dit in die Pro14-reeks doen, straf die teenstanders jou.

“Die reeks is baie meer tegnies en daarom is dit belangrik dat jy elke kans gebruik wat jy kry,” sê Venter.

Hy behoort weer op plaasvervangersbank te wees wanneer die wedstryd-23-tal Donderdag aangekondig word.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Rugby  |  Haker  |  Besering  |  Cheetahs  |  Pro14-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.