Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas se beseringslys groei

Met die plaaslike rugbyseisoen wat nog nie eens die halfpadmerk bereik het nie, is die beseringspook reeds besig om amok by die Pumas te saai.

Waarheen van hier, manne? Pieter Jansen van Vuren (middel), kaptein en slot van die Pumas, hou Saterdag kajuitraad saam met sy spanmaats. Foto: Gallo Images

Die jongste nuus is dat die haker AJ le Roux las van ’n dyspierbesering het en vir ’n geruime tyd langs die kantlyn gaan wees. Hy het die besering Saterdag tydens die Laevelders se nederlaag met 19-42 teen die Haaie in dié spanne se kragmeting in die Superrugby Unlocked-reeks in Mbombela opgedoen.

Le Roux (29) het die veld reeds vroeg in die eerste helfte verlaat. Sy besering volg ’n week nadat die losskakel Eddie Fouché (heup) en die stut Morgan Naudé (skouer), albei sleutelspelers, teen die Stormers beseer is.

Dit lyk wel of Naudé oor twee weke teen die Leeus in Johannesburg sal kan uitdraf. Die Pumas het hierdie week ’n loslootjie.

Die hoë verwagtinge wat daar die afgelope week van die Laevelders gekoester is dat hulle die Haaie kan klop het toe ’n muis gebaar. Met 20 minute se speeltyd verstreke was die besoekers gerieflik met 21-0 voor – grootliks danksy onnodige foute in daardie eerste paar minute.

Ek is baie ongelukkig met die individuele foute wat die spelers gemaak het.
Jimmy Stonehouse

Die tuisspan het nie skoppe opgevolg nie, foute by lynstane gemaak en kon nie daarin slaag om die KwaZulu-Natallers se rolmaalbewegings te stuit nie. Dít het Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, omgekrap.

“Ek is baie ongelukkig met die individuele foute wat die spelers gemaak het. Ons het ’n wedstrydplan gehad en ons was goed voorbereid. Maar toe mis ons om daardie skoppe op te volg en die Haaie is vinnig met 14-0 voor.

“Ons het die kans gekry om met twee strafdoele in te haal, maar kon ongelukkig nie punte daar kry nie. (Fiela Boshoff se pogings pale toe het misluk.)

“Maar ek is tog trots op die poging wat die ouens ingesit het, hulle het aanhou probeer. Daar was selfs ’n tyd toe ons byna weer terug in die wedstryd was. Soos ek sê: As span was ons nie swak nie,” sê Stonehouse.

Los my uit! Die Pumas se Erich Cronjé (senter) probeer uit die hande van Lukhanyo Am, kaptein van die Haaie, Saterdag in Mbombela bly. Foto: Gallo Images

In die tweede helfte was die Pumas beslis met tye die beste span op die veld, met iemand soos Erich Cronjé (senter) wat ’n paar goeie lopies ingekry en ook twee drieë gaan druk het.

Vir die Laevelders is die komende week se loslootjie dalk op presies die regte tyd. Volgens Opta Sports het hulle vier lynstane verloor wat ongehoord vir dié span is.

Die effense blaaskans gee die span ’n geleentheid om daardie foute uit te skakel.

“Ons gaan hierdie komende twee weke aandag daaraan gee om die individuele foute van die spelers te probeer uitskakel. Ook hoe ons spanne se rolmaalbewegings stuit. Tot voor Saterdag se wedstryd was ons goed daarmee, maar teen die Haaie het dinge nie daar goed verloop nie,” sê Stonehouse.

“Ons het ook foute in die lynstane gemaak en daar besit afgestaan – dit is iets wat ons moet regstel. Ek dink ons het nogal goed in die skrums gevaar, maar dit gesê was die Leeus baie goed in dié faset teen Griekwas (Vrydag op Ellispark).”

Puntemakers:

Haaie 42 (28): Drieë: Manie Libbok, Madosh Tambwe, Dan Jooste, Sbu Nkosi, Kerron van Vuuren (2). Doelskoppe: Curwin Bosch (6).

Pumas 19 (7): Drieë: Francois Kleinhans, Erich Cronjé (2). Doelskoppe: Fiela Boshoff (2).


Meer oor:  Mbombela  |  Haaie  |  Pumas  |  Superrugby Un­Locked  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.