Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Gelant kan voor Leeus-toer genees’

As daar een ligpuntjie vir John Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie, is nadat hy die slegte tyding gekry het dat sy ster-heelagter, Warrick Gelant, lank op die krukkelys gaan wees, is dit dat hy ’n moeilike besluit oor Damian Willemse gespaar is.

Met die uitsondering van die Stormers se wedstryd in die Superrugby Unlocked-reeks teen die Cheetahs op Nuweland, het Willemse se vertonings op losskakel vanjaar nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Warrick Gelant, heelagter van die WP, lak die Bulle-losvoorspeler Nizaam Carr in verlede naweek se Curriebeker-wedstryd op Nuweland. Gelant gaan vir die volgende ses maande nie duikslae kan uitvoer nie nadat hy ’n kruisligament in sy knie geskeur het. Foto: Gallo Images

Maar met Gelant wat ’n ernstige kniebesering in die afgelope naweek se nederlaag met 20-22 teen die Bulle opgedoen het, gaan Willemse waarskynlik nou na heelagter geskuif word vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Leeus op Ellispark.

Was dit nie vir die Gelant-besering nie, sou Dobson dit ernstig moes oorweeg om sy voorkeur-losskakel te pos en die nr.10-trui aan Tim Swiel of Kade Wolhuter toe te vertrou.

Gelant het ’n kruisligament in sy knie geskeur en ’n besering van dié aard kan tot nege maande neem om te genees, maar die WP-kamp is vol vertroue dat Gelant se droom om volgende jaar teen die Britse en Ierse Leeus te speel nie aan skerwe lê nie.

“Met goeie rehabilitasie en Warrick se professionaliteit bygereken, kan dit maklik ses maande wees,” sê Norman Laker, die WP se verdedigingsafrigter.

Die Leeus-toer skop op 3 Julie af (dus oor sewe maande) met ’n wedstryd teen die Stormers in die Kaapstad-stadion, terwyl die eerste toets teen die Springbokke vir 24 Julie in Johannesburg geskeduleer is.

Daar is baie kenners wat meen dat Willemse gemakliker op heelagter sal wees, omdat hy meer ruimte sal kry om hom op die aanval uit te leef. Hy het ses toetse agter sy naam sedert sy buiging teen Argentinië in Durban in 2018 – as plaasvervanger vir die binnesenter daardie dag, André Esterhuizen.

Willemse het ook in die 2019 Wêreldbeker-toernooi as heelagter in die groepwedstryd teen Kanada opgedraf. Hy is opgeroep nadat Jesse Kriel ’n besering in die eerste groepwedstryd teen die All Blacks opgedoen het.

Damian Willemse sal sy sokkies moet optrek as hy glo sy skuif na heelagter vir die Stormers kan sy kanse op ’n plek in die Springbok-groep laat toeneem. Hier rond hy ’n drie vir die Bokke af in die 2019 Wêreldbeker-groepwedstryd teen Kanada in Kobe. Foto: Getty Images

Maar hy sal sy sokkies ver moet optrek indien hy as ’n geloofwaardige aanspraakmaker vir die nr.15-trui beskou wil word vir volgende jaar se reeks teen die Leeus.

Jacques Nienaber, die Bok-afrigter, sal waarskynlik nie verder as die gesoute Willie le Roux kyk vir sy voorkeur-heelagter nie.

Daar is ook ander opsies en ’n speler wat veral op die voorgrond kan tree, is die Haaie se Aphelele Fassi, wat die voordeel bied dat hy ’n geleerde linkerskopvoet het. Fassi is op die krukkelys nadat hy ’n skoueroperasie ondergaan het.

Jare se toetservaring kan ook swaar in Frans Steyn se guns tel wanneer daar gekyk word na alternatiewe vir Le Roux.

Maar anders as Nienaber, het Dobson ’n probleem. Nie soseer omdat Willemse ’n swak heelagter is nie. Inteendeel, hy is al met vrug in daardie posisie aangewend.

Gelant was egter in die Superrugby Unlocked-reeks loshande die Stormers se beste agterspeler en het daardie spelpeil ook na die WP se Curriebeker-wedstryd teen die Bulle oorgedra.

Behalwe vir sy aanvallende spel, is Gelant se taktiese skopwerk puik en dit was ook een van die redes waarom die WP die luuksheid gehad het om in die eerste helfte teen die Bulle op die voorvoet te speel.

Hulle het egter nie hul geleenthede in die eerste helfte benut nie en dit was beslis nie die wedstrydplan wat die probleem was nie.

Of Willemse ewe berekend gaan wees met sy taktiese skopwerk al dan nie op Ellispark Saterdag, is die groot vraag. Dan is daar ook nog die kwessie van sy onbestendige skopwerk pale toe, wat ’n yslike probleem vir die WP is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.