Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Warrick Gelant wil Gio in Kaap nadoen

Of die Blou Bulle beter af is met Gio Aplon in sy skemerjare as wat hulle met Warrick Gelant sou wees, is ’n ope vraag, maar oor een ding is daar sekerheid: Gelant gaan homself in die Westelike Provinsie meet aan die standaarde wat Aplon vroeër in sy loopbaan daargestel het.

Gio Aplon, wat nou saam met die Bulle in Pretoria gaffel, het standaarde by die Stormers gestel wat Warrick Gelant hom graag wil nadoen. Foto: Gallo Images

“Die heelagters voor my was puik en dis vir my spesiaal om dieselfde trui as hulle te kan dra,” sê Gelant oor voorgangers soos Aplon, Cheslin Kolbe en Dillyn Leyds.

“Gio het gespeel toe ek rugby begin kyk het. Omdat hy klein is, was hy nie só hoog aangeslaan nie, maar sy vaardighede is wat elke laaitie nagestreef het.”

Gelant (25) het met die reputasie van ’n Wêreldbeker-Springbok in die Moederstad aangekom, maar van arrogansie is daar nie sprake nie.

“Ek is nie naastenby die speler wat ek wil wees nie. Dís waaruit ek my motivering put. Ek het soveel groter doelwitte as om net te wil sê dat ek deel van ’n Wêreldbeker-groep was,” sê hy.

“Ek was altyd ’n Stormers-ondersteuner en het hierheen gekom om wedstryde te begin. Ek moet dit verdien en kan nie grootkop wees nie.”

Gelant hoop die skuif Kaap toe laat hom toe om die “volgende vlak” te bereik, ’n stelling wat waarskynlik sy oorsprong het in die feit dat daar vir etlike seisoene al nie kontinuïteit by die Bulle is nie.

Met Jake White trek die Bulle nou al by hul vierde afrigter in vier seisoene, terwyl daar in die Moederstad meer stabiliteit was. John Dobson is in sy eerste seisoen as Stormers-afrigter, maar brei die Curriebeker-span al etlike seisoene.

“Groei word die heel tyd hier nagestreef en dis wat vir my só spesiaal is,” sê Gelant van sy ervaring in die Stormers-kamp sover.

“Daar’s niemand wat op sy louere rus nie. Ons wil in elke faset van die spel verbeter. Dis waarom ek hierheen gekom het. Ek wil my loopbaan na die volgende vlak neem en groei in my spel. Tans is dit die beste plek vir my loopbaan. Ek het nog nie vir ’n oomblik gedink dat ek die verkeerde besluit geneem het nie.”

Op nasionale vlak is Gelant nie uit die skool wat swarighede vir die Bokke voorsien omdat hulle nie só “wedstrydfiks” soos Nieu-Seeland en Australië sal wees wanneer die Rugbykampioenskaplik hopelik later vanjaar gespeel word nie.

Die Australasiërs kon al etlike wedstryde speel danksy die feit dat die staat van inperking Doer Onder en in Nieu-Seeland verslap is.

“Dis buite ons beheer. Ons is in ’n posisie waar ons moet sê ‘of ek bekommer my daaroor, of ek kry myself in die beste posisie om dit te kan hanteer en beheer’,” sê hy.

“Die Stormers se benadering is dat Suid-Afrikaanse rugby op ’n beter plek gaan wees danksy die individuele werk wat almal kan insit. Van ons kant af dink ek ons sal heel orraait wees.”

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Gio Aplon  |  Warrick Gelant  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.