Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maatskappy het glo net genoeg vir een maand se salarisse
Magstryd: Geld-mes teen WP-keel

WP Rugby is “op sy laagste punt tot nog toe” te midde van ’n interne magstryd en ’n massiewe geldtekort wat een van die land se voorste rugbyunies op sy knieë kan dwing.

Met net enkele dae om ’n geldelike reddingsboei te vind, staar die WP ’n groot uittog van spelers in die gesig, terwyl daar blykbaar net genoeg geld is om werknemers se salarisse vir nog ’n maand te betaal.

Paul Zacks

Rapport het verlede week berig die WP stuur af op ’n verlies van R30 miljoen en dat die kontrakteringsproses gevries is ná waarskuwings op direksievlak dat dit “roekelose bestuur” sou wees om nou groot geld uit te gee.

Volgens Rapport se inligting is ’n dringende direksievergadering Vrydag byeengeroep, maar het dit op niks uitgeloop nie. Geen oplossings vir probleme kon gevind word nie.

Die direksie eis steeds ’n brief van die WP Rugbyunie om die spelersbegroting en geld vir ander bedrywighede te waarborg. Die unie, onder leiding van Zelt Marais, die WP-president, weier glo om so brief onvoorwaardelik toe te staan.

Van die voorwaardes is glo dat gesag in die WP-strukture terugkeer na die amateurkant van die unie onder leiding van Marais en dat ’n skeidingspakket

Zelt Marais

met die uitvoerende hoof, Paul Zacks, onderhandel moet word. Zacks is al lank in die spervuur en het vroeër in die hospitaal beland weens stres.

Die situasie word kritiek vir die WP en die Stormers omdat ander provinsies van 1 Julie af aanbiedings aan spelers kan doen.

In dié stadium het geen spelers kontrakte nie. Dit sluit in Siya Kolisi, Springbok-kaptein, Pieter-Steph du Toit, SA Rugbyspeler van die Jaar vir 2018, en die Springbokke Frans Malherbe, Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Sikhumbuzo Notshe. Die spelers het net mondelinge ooreenkomste met WP.

Na verneem word het agente reeds met ander provinsies onderhandel en hulle wag nou net vir die spertyd van 1 Julie om formele aanbiedings van elders te ontvang.

Om sake te vererger, is die provinsie se kontantvloei so benard dat daar twyfel in die binnekring bestaan of personeel hul salarisse vir Augustus sal kry.

Die tekort van R30 miljoen sluit boonop nie ’n lening van R43 miljoen van Remgro in nie. Daar is gerugte dat Remgro die lening wil herroep, maar dit kan nie bevestig word nie. Die bedrag wat aan Remgro geskuld word, beloop weens rente nader aan R56 miljoen.

WP wil nie bevestig of Nuweland as sekuriteit vir die lening aangebied is nie, maar Rapport verneem betroubaar dit is wel so.

Die gees onder spelers is glo ook op ’n laagtepunt, nie net weens die situasie met kontrakte nie, maar ook weens onduidelikheid oor afrigtingspanne.

Vrae hang oor die toekoms van die Stormers se afrigtingspan en veral Robbie Fleck, en die hulpafrigters, Russell Winter en Paul Feeny. Onduidelikheid heers ook oor die finale Curriebeker-afrigtingspan onder John Dobson, met gerugte dat Paul Treu ook deel van die afrigtingspan gaan wees.

Weens die geldprobleem mag “absoluut geen geld” glo by WP Rugby uitgegee word nie. Dis onduidelik hoe daaglikse uitgawes gedek word, terwyl die Curriebeker en ’n o.21-kompetisie wat binnekort gaan begin nóg geldeise gaan stel.

Die situasie raak weekliks al hoe meer benard weens minder toeskouers en ’n verlies aan losiehouers.

Verlede week, toe die Stormers teen die Haaie te staan gekom het, was daar vir die eerste keer in die provinsie se Superrugby-geskiedenis minder as 10 000 toeskouers by ’n wedstryd op Nuweland.

Rapport het in Maart berig sowat 28 eienaars het hul losies in die stadion opgegee. Dit sou ’n beraamde verlies van sowat R4,5 miljoen meebring.

’n Omvattende stel vrae is aan Marais, Zacks en Michael de Vries, die WP-woordvoerder, gestuur om kommentaar te verkry. Teen druktyd is geen antwoorde nog ontvang nie.

Toe die situasie rondom die afwesigheid van spelerskontrakte verlede week aan die lig gekom het, het WP wel op navrae gereageer.

Die huidige ekonomiese toestande in die land het die skuld gekry, asook die feit dat Nuweland nie vanjaar ’n toetswedstryd gekry het nie. Instandhouding aan die stadion, spelers se salarisse en kleiner inkomste uit TV is ook uitgesonder as redes vir die onverkwiklike situasie.

“Alle rugby-franchises in Suid Afrika word deur finansiële moeilikheid in die gesig gestaar, nie net WP Rugby nie,” het ’n woordvoerder gesê.

Meer oor:  Wp Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.