Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Geld vir poste' by Loftus: Hy kan 3 j. sit
Xander Janse van Rensburg

Die Blou Bulle se gewese hoëprestasiebestuurder, Xander Janse van Rensburg, staar glo drie jaar tronkstraf in die gesig nadat hy ’n pleitooreenkoms met die nasionale vervolgingsgesag aangegaan het.

Janse van Rensburg sal hom volgens die ooreenkoms op 11 Desember aan die polisie oorgee en voor ’n landdros verskyn. Volgens Rapport se inligting is ’n pleitooreenkoms die afgelope week bereik waarin Janse van Rensburg op twee klagte van bedrog skuld beken. Volgens die ooreenkoms sal hy drie jaar tronkstraf kry.

Hy moet glo ook bykans R500 000 aan die Blou Bulle Maatskappy (BBM) terugbetaal.

Die ooreenkoms is na verneem word tussen die Valke, wat die saak onder leiding van lt.kol. Peet du Plessis ondersoek het, die staatsaanklaer Paul Louw, en Janse van Rensburg se prokureur, Oelof de Meyer, bereik. Die landdros kan dit aanvaar of verwerp as die straf nie as gepas beskou word nie.

Janse van Rensburg het skielik in Februarie verlede jaar weens “gesondheidsprobleme” by die BBM bedank. ’n Ondersoek het glo ongerymdhede aan die lig gebring en daar is glo ook R300 000 in kontant in sy kantoorlessenaar by Loftus Versfeld gevind.

Sowat R493 000 sal glo as skikking vir ’n siviele eis van die BBM betaal word. Vroeër vanjaar is ’n skikkingsbedrag van R460 000 deur die BBM verwerp.

Volgens Rapport se inligting spruit die bedrogklagte uit twee beweerde voorvalle. Die eerste is die huur van ’n huis as koshuis vir junior spelers in Sunnyside, glo teen R1 miljoen per jaar. Volgens Rapport se inligting was die markverwante huurgeld vir die huis net R30 000 per maand en nie R85 000 nie, soos glo beding is.

Die huis is in ’n trust waarvan Janse van Rensburg se suster Nerine Scheepers en ’n eiendomsagent Marieth Kloppers lede is. Die saak word glo ook tans deur die Raad op Eiendomsagente ondersoek.

Scheepers en Kloppers het nie gister op Rapport se navrae gereageer nie, maar het vroeër aantygings van ongerymdhede verwerp.

Die tweede klag spruit glo uit betalings van afrigters en bestuurspersoneel aan Janse van Rensburg om in hul poste aangestel te word. Sowat 15 lede van die Bulle se bestuurspanne het glo “tekenbonusse” gekry toe hulle hul kontrakte beding het, en het daarna glo geld in Janse van Rensburg se rekening inbetaal.

Daar is onderhandelinge om die ding af te handel tot tevredenheid van al die partye.

De Meyer het by navraag gesê daar is ’n ooreenkoms bereik.

“Daar is onderhandelinge om die ding af te handel tot tevredenheid van al die partye,” het De Meyer aan Rapport gesê.

Dit blyk ook dat daar nie genoegsame bewyse is om twee ander klagte in te stel nie – onder meer oor deposito’s wat die junior spelers glo vir “breekskade” in hul onderskeie verblyfplekke moes betaal, maar wat glo nooit aan die BBM oorbetaal is nie. Die kontantbetalings beloop glo sowat R2 000 tot R5 000 per speler oor ’n tydperk van vier jaar se verblyf.

Daar is ook nie genoeg bewyse om die bewerings te staaf dat agente Janse van Rensburg betaal het om spelers te teken bó markverwante pryse nie.

Volgens Rapport se inligting is daar niemand by die BBM wat tans ondersoek of vervolg sal word nie.

Janse van Rensburg en kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die BBM, wou nie kommentaar lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.