Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blou Bulle: Geldbom bars by Loftus

Die omvang van die Blou Bulle se geldkrisis en die gespartel om die Blou Bulle Maatskappy van bankrotskap te red, is in die ope gebring deur ’n paleisrevolusie teen die unie se president, Gert Wessels.

Gert Wessels

Die bewering is dat die Blou Bulle Maatskappy (BBM) net op lenings en gunste en gawes oorleef en nie in staat is om dit terug te betaal nie.

Wessels bevind hom midde in ’n geskil oor beweerde ongemagtigde lenings van etlike miljoene rand wat die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) aan die BBM gemaak het en waarvan die terugbetalings reeds lank agterstallig is.

In die aantygings teen Wessels sê gegriefde klubs en ander belanghebbendes selfs dat die unie finansieel geruïneer is omdat die geld uit hul rekening aan die maatskappy oorbetaal is.

Wessels is nou in ’n verbete stryd om te oorleef. ’n Mosie van wantroue is teen hom ingedien waarin daar aangevoer word dat hy “roekeloos buite sy mandaat opgetree” het met die toestaan van die lenings.

Rapport is in besit van die mosie wat teen Wessels sal geld.

Dis deur verskeie klubs en visepresidente van die Blou Bulle onderteken. Daarin word onder meer beweer dat die BBRU ’n lening van R8,43 miljoen aan die BBM, wat onder erge finansiële druk gebuk gaan, toegestaan het.

Die bedrag moes teen Februarie 2017 terugbetaal word, maar is nie.

In Oktober 2017 het dr. Eugene Hare, Wessels se uitvoerende hoof by die unie, na bewering sonder die nodige magtiging nog R5 miljoen aan die maatskappy oorbetaal om ’n tekort op ’n huidige banklening aan te vul. Én die unie het daarby ook waarborg gelewer vir R7,5 miljoen van die maatskappy se skuld.

Dié lening (R5 miljoen) sal eers aan die unie terugbetaal word wanneer die maatskappy winsgewend is, iets wat as hoogs onwaarskynlik beskryf word. Dit moet eerder as ’n “skenking” beskou word, word in die mosie teen Wessels gesê.

Dit skets ’n donker prentjie van die maatskappy se geldsake. Daarvolgens benodig die maatskappy glo voortdurend lenings van aandeelhouers en banke om kop bo water te hou. Die maatskappy se geldsake het volgens inligting so droewig in Desember daar uitgesien dat hy nie in ’n posisie was om sonder lenings salarisse te betaal en ander finansiële verpligtinge na te kom nie.

“Daar is besluit om dit nie te doen nie. Hoe eties is dit om hom te benoem vir ’n Saru-pos as ons hom nie meer as ’n president by die Bulle wil hê nie?”

Unielede is ook omgekrap omdat Loftus Versfeld se losie-inkomste van vanjaar af na die maatskappy gaan. Die maatskappy sal eers oorbetalings aan die unie doen as daar enige wins oorbly nadat alle finansiële verpligtinge nagekom is.

Henri van Aswegen, ’n adjunkpresident van die BBRU wat die mosie lei, sê daar is ’n “massiewe vertrouensbreuk” tussen Wessels en die unie.

“Ons is van mening dat Wessels nie die unie se belange voorop gestel het nie en die gevoel is eenparig dat hy nie meer in die rol kan aanbly nie.”

Die mosie is Woensdag by Loftus Versfeld ingedien en sal na verwagting binne die volgende twee weke op ’n buitengewone algemene vergadering bespreek word. Die bestuurskomitee van die Blou Bulle moet ’n datum bepaal.

Van Aswegen het bevestig dat Wessels verlede maand gevra is om te bedank.

Wessels het glo aangedui hy sal aan die versoek voldoen as die BBRU hom vir ’n posisie in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende bestuur benoem.

“Daar is besluit om dit nie te doen nie. Hoe eties is dit om hom te benoem vir ’n Saru-pos as ons hom nie meer as ’n president by die Bulle wil hê nie?”

Wessels sê hy is nie nou in ’n posisie om kommentaar te lewer nie: “Ek sal later my saak stel. Ek het kennis geneem van die aantygings wat gemaak word, maar ek kan nie sake vooruitloop nie.”

Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy, sê die Suid-Afrikaanse rugbybedryf is in geheel onder yslike gelddruk.

“Die BBM is die afgelope paar jaar onder finansiële druk weens die prestasies van die span, stygende koste, inkomste wat afneem en dalende toeskouergetalle,” sê Van Graan.

Die maatskappy het verlede jaar begin met ’n omkeerstrategie – wat deur die raad van direkteure goedgekeur is en waarvan Wessels deel is. Daar is verskeie maatreëls ingestel om die maatskappy geldelik volhoubaar te maak.

“Deel van dié strategie was om nuwe aanstellings in die afrigtingskorps te maak wat tot die verhoging van toeskouerbywoning en inkomste kan lei,” het Van Graan gesê.

“Groot kostebesparings is deur die maatskappy gedoen. Die aandeelhouers van die maatskappy het ook finansiële ondersteuning gegee.

“Die maatskappy sal hierdie lenings terugbetaal sodra die maatskappy daartoe in staat is.”

Meer oor:  Blou Bulle  |  Loftus Versfeld  |  Gert Wessels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.