Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-19: Geldpot kan SA spelers deurdra

Die koronavirus se negatiewe impak op die ekonomie kan tot ’n kontantvloei-krisis in Suid-Afrikaanse rugby lei.

“Borge en adverteerders sit op hul hande en is traag om van hul kontant te skei,” het ’n onberispelike bron in Suid-Afrikaanse rugby aan Rapport gesê.

Dis egter nog vroeg vir Suid-Afrikaanse unies om met spelers oor salarisverminderings te onderhandel, soos die geval is met verskeie van die Engelse klubspanne weens die negatiewe geldelike impak wat die virus op hul geldsake het.

Klubs soos Gloucester, Wor­cester Warriors, Northampton, Harlequins, Leicester, Saracens, Bath, London Irish en Wasps het reeds bevestig dat hulle hul spelers, afrigters en administrateurs se salarisse dadelik met 25% gaan sny.

Ian Foster, die All Blacks se afrigter, het gister ook erken sy bestuurspan het almal ingestem tot salarisverminderings en hulle verwag spelers in die land sal ook gevra word om kleiner salarisse te aanvaar.

Beauden Barrett
Beauden Barrett van die Blues skop Donderdag die bal in ’n solo-oefensessie op die Shore Road-veld in Auckland, Nieu-Seeland. 2020 se Superrugby-seisoen is op 14 Maart weens die Covid-19-pandemie afgestel. Reisbeperkings is ingestel, wat beteken geen internasionale vlugte word toegelaat nie. Nieu-Seeland is in ’n staat van inperking met landsburgers wat volgens versoek liefs tuis moet bly. Alle nie-noodsaaklike besighede is gesluit, insluitend kroeë, restaurante, rolprentteaters en speelterreine. Skole is gesluit en alle binnenshuise en buitelug-geleenthede is verbied. Noodsaaklike dienste soos dié van supermarkte en apteke is wel beskikbaar. Foto: Getty Images

“Ons is in ’n bedryf met ’n hoë onkoste en hoë inkomste. As die inkomste stop, het jy net die onkoste wat oorbly. Dis só eenvoudig. Daar gaan pyn wees,” het Foster vir Radiosport gesê.

Suid-Afrikaanse spelers vrees dieselfde, maar hul salarisse kan eers beïnvloed word as daar nie ná sowat vier maande of langer gespeel word nie.

“Ek dink daardie gesprek oor salarisvermindering is eers op die tafel as die unies beslis minder inkomste van SA Rugby of hul eie borge ontvang,” het ’n bron gesê.

MyPlayers, SA Rugby se spelersorganisasie, sit glo met groot geldkoffers propvol kontant uit beeldregte-verdienste van spelers wat benut kan word om spelers se salarisse aan te vul.

Dít kan verligting bied as die unies weens geldelike verliese minder aan spelers betaal.

Waar spelers in die verlede geld van unies vir salarisse gekry het en ’n bydrae van MyPlayers vir beeldregte gekry het, gaan hulle in die toekoms in totaal dalk net die salarisbedrag ontvang – gedeeltelik van hul unies en ’n gedeelte van MyPlayers.

’n Ander groot risiko vir rugbyamptenare is dat enige verandering aan inkomste die kontrak se geldigheid in die gedrang kan bring.

Spelers kan óf op hul volle salarisse aandring óf besluit dat hulle weens ’n verandering aan hul ooreengekome salarisse eerder uit die kontrak wil kom.

Dit skep egter weer ’n risiko vir die spelers, veral omdat salarisse wêreldwyd gesny word en daar nie groot kontrakgeld tans beskikbaar is nie.

Die grootste risiko wat die impak van die virus vir SA Rugby inhou, is egter met sy televisieregte.

’n Groter risiko is dat die borg weens die ekonomiese impak kan ondergaan

SA Rugby befonds sy franchises jaarliks met net minder as R33 miljoen elk uit televisieregte wat maandeliks oorbetaal word. Kleiner unies ontvang minder.

Voordat die TV-uitsaaier of die borge nie by SA Rugby kla dat hulle nie waarde vir hul geld kry nie, is SA Rugby in ’n veilige posisie.

“Dis nog te vroeg om te bepaal hoeveel minder wedstryde vanjaar gespeel sal word vir uitsaaiers om te begin grom.

“Die inkomste uit televisieregte word as die grootste risiko vir SA Rugby beskou en dit het nog nie verander nie,” het ’n administrateur gesê.

Die tweede groot risiko vir Suid-Afrikaanse rugby is spanborgskappe.

As daar wesenlik minder wedstryde is, kry die borg minder blootstelling, wat kan beteken dat die borg minder sal wil betaal.

’n Ander groot risiko vir rugbyamptenare is omdat dié kollektiewe ooreenkoms nooit so ’n situasie ingesluit het nie, sal enige salarisverminderings ook beteken kontrakte sal weer onderhandel moet word.

Tegnies kan spelers aandring op hul huidige kontrakte, of kan dit selfs gebruik om uit hul kontrakte te kom as ’n ooreenkoms nie bereik kan word nie.

“ ’n Groter risiko is dat die borg weens die ekonomiese impak kan ondergaan,” het die onberispelike bron gesê.

Inkomste uit losies word as ’n kleiner risiko beskou. Hul ooreenkomste sluit force majeure-klousules in.

Hek-inkomste speel nie deesdae meer so ’n groot rol as in die verlede nie.

Die uitgawes van die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse unies is tans meer as die hek-inkomste of drankverkope op ’n wedstryddag.

Dit jaag franchises tussen R300 000 en R400 000 uit die sak om ’n Superrugby-tuiswedstryd aan te bied. Die aanbied van Curriebeker-tuiswedstryde kos unies tussen R200 000 en R300 000 per wedstryd.

Die Leeus is die eerste rugbyunie wat die week hul kantoorwerknemers gevra het om verpligte verlof weens die inperking van 21 dae te neem.

Die Leeus het in ’n videokonferensie Donderdag vir werknemers gesê hulle sal 11 dae se verlof moet insit en agterstallige verlof van tot sewe dae sal toegelaat word, anders sal werknemers onbetaalde verlof moet neem vir die tydperk.
Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Virus  |  Verlof  |  Salaris
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.