Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geleende geld ‘red’ SA rugbyunies

Die Covid-19-pandemie het die land se unies so hard getref dat SA Rugby by Wêreldrugby om geldelike hulp moes aanklop.

Al die groot en van die kleiner unies het volgens Rapport se inligting voorskotte op hul jaarlikse bydrae van SA Rugby gevra.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - NOVEMBER 14: Wide angle
Rugbyadministrateurs is in die duister oor wanneer stadions se hekke weer vir losiehouers, seisoenkaartjiehouers en ondersteuners sal oopmaak. Foto: Gallo Images

SA Rugby het in die proses effektief volgende jaar se geld by Wêreldrugby aangevra en gebruik dit, saam met alle besparings wat die Suid-Afrikaanse beheerliggaam in sy hoofkantoor bewerkstellig het, om die unies te help.

’n Top-rugbyadministrateur met wie Rapport gepraat het, het gesê daar is elke jaar lande wat ’n voorskot by Wêreldrugby aanvra.

“Dit is normaal. Ek dink SA Rugby het dit (om ’n voorskot by Wêreldrugby te vra) ook een keer in 2016 gedoen. Sommiges doen dit elke jaar.”

SA Rugby help van sy unies al van Mei af maandeliks met voorskotte en geen vrese bestaan dat enige van hulle nie salarisse sal betaal nie.

Ondanks die voorskotte jaag die onsekerheid oor wanneer toeskouers weer by plaaslike wedstryde toegelaat sal word, die meeste van die land se rugbybase se bloeddruk op weens die verdere enorme druk wat dit op hul reeds benarde kontantvloei plaas.

Geen rugbyadministrateur met wie Rapport gepraat het, kan met sekerheid antwoorde gee wanneer stadions se hekke weer vir losiehouers, seisoenkaartjiehouers en ondersteuners sal oopmaak nie.

Rugbybase hoop pres. Cyril Ramaphosa sal gou duidelikheid hieroor gee.

Die verwagting is dat dit nie voor vroeg volgende jaar sal wees nie.

Inkomste uit losies is die meeste van die groot unies se derde grootste bron van inkomste.

Die enigste troefkaart wat die grotes vir 2021 het, is die Britse en Ierse Leeu-toer.

“Al het die grotes se losie-inkomste die afgelope vyf jaar in die hek geduik, verloor die unies steeds tans miljoene rande,” het ’n tweede rugbyadministrateur gesê.

“Hulle sukkel om deesdae huurders vir al hul losies te kry teen dieselfde bedrae as voorheen, maar selfs al is dit 100 losies teen R200 000 elk, is dit steeds R20 miljoen op risiko vir van die grotes.”

Unies kan wel kontrakbepalings afdwing ongeag of hulle vir losiehouers inhoud verskaf, want hulle het ’n bindende ooreenkoms en losiehouers moet hul geldelike verpligtinge nakom.

As unies egter só ’n houding sou inneem, kan hulle die losiehouer afskrik om nie volgende jaar weer ’n losie te neem nie.

Behalwe vir die risiko dat die unie eintlik net ’n gedeelte van die prys (inkomste) kan regverdig weens die verminderde wedstryde wat aan die losiehouer gebied word, het Covid-19 so ’n negatiewe impak op die ekonomie dat sekere losiehouers nie meer hul losies kan bekostig nie.

Vermaak is nou die eerste item op die begroting waar sakeondernemings vir besparings op koste gaan soek.

“Die enigste troefkaart wat die grotes vir 2021 het, is die Britse en Ierse Leeu-toer. Mense kan dalk hul losies vir nog een jaar net daarvoor hernieu. Hoe jy hulle ná 2021 gaan oorreed, weet niemand nie.”

Ek dink dit kan unies drie tot vyf jaar neem om te herstel van vanjaar se geldelike verliese wat deur Covid-19 veroorsaak is.

Groot unies se kontantvloei bly volgens ’n derde rugbyadministrateur kritiek.

“Ek sou sê die volgende drie tot vyf maande is kritiek,” het die derde rugbyadministrateur gesê.

“Wat dit moeilik maak, is dat ’n mens nie leë beloftes vir ons losiehouers, borge en seisoenkaartjiehouers met die oog op 2021 wil maak nie.

“Ek dink dit kan unies drie tot vyf jaar neem om te herstel van vanjaar se geldelike verliese wat deur Covid-19 veroorsaak is.”

’n Vierde rugbyadministrateur het aan Rapport gesê die groot unies sal slegs in ’n posisie wees om die finansiële terugslae te absorbeer as stadions se hekke dadelik in 2021 oopgestel word wanneer die Pro16-reeks in Maart begin.

“Daar lê ’n paar kritieke maande vir ons voor,” het hy gesê.

Meer oor:  Rugbyunies  |  Salarisse  |  Sa Rugby  |  Wêreldrugby  |  Geldelike Hulp  |  Covid-19  |  Kontantvloei  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.