Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Gemsbok’ Scarra word Springbok
Scarra Ntubeni in aksie vir die Westelike Provinsie teen die Pumas op Nuweland verlede Vrydag.Foto: Gallo Images

Hy sou dit waardeer het as daar “vroeër kennisgewing” was, maar die Westelike Provinsie se afrigter, John Dobson, is vir Scarra Ntubeni se onthalwe verheug dat hy dit tot in die Springbokke se 23-tal gemaak het.

“Ek onthou die toer waar hy die Springbok-baadjie oor sy skouer moes dra. Ons het hom nou geterg dat die Gemsbok uiteindelik ’n Springbok word,” het Dobson Woensdag in Nuweland op die bekendmaking van sy span vir môre se Curriebeker-rugbywedstryd teen Griekwas in Kimberley gesê.

Die WP kou vandeesweek langtand aan die verlies van Ntubeni in ’n kritieke tydstip in hul veldtog. Chad Solomon, wat weinig ervaring op senior vlak het, gaan as die Streeptruie se haker opdraf met Schalk Erasmus wat straks sy buiging van die plaasvervangersbank af gaan maak.

Die WP het ook die vaskopstut Wilco Louw en heelagter-vleuel Dillyn Leyds onverwags aan die Bokke afgestaan. Siya Kolisi is ook terug Bokke toe nadat hy verlede Vrydag teen die Pumas sy terugkeer van ’n kniebesering by die WP gemaak het.

“ ’n Bietjie vroeër kennisgewing sou gehelp het in terme daarvan om nog ’n haker gereed te kry, maar ek dink ons het goed gedoen deur verlede naweek teen die Pumas vir Chad vroeg in die tweede helfte as plaasvervanger op te stuur,” sê Dobson.

Hierdie is vir Chad ’n yslike geleentheid. Ons gaan Vrydagaand ná die wedstryd baie meer van hom weet. Dit bly ’n sterk span wat ons in die veld stoot.
John Dobson

“Hierdie is vir Chad ’n yslike geleentheid. Ons gaan Vrydagaand ná die wedstryd baie meer van hom weet. Dit bly ’n sterk span wat ons in die veld stoot.”

Terwyl Dobson vir Ntubeni baie geterg het oor sy grondskoppie wat die WP van ’n maklike kans op ’n drie ontneem het in die broekskeurnederlaag teen die Goue Leeus, sê hy die buksiehaker se insluiting in die Bok-span is “welverdiend”.

Chad SolomonFoto: Gallo Images

“Hy was verlede week teen die Pumas puik. Hy het veral met sy intensiteit in kontak die oog getref. Hy verdien dit 100% en ek is verheug vir hom,” sê Dobson.

Die 28-jarige Ntubeni moes ernstige beserings trotseer om tot hierdie punt in sy loopbaan te kom. Hy het in 2016 ’n hakseningbesering opgedoen wat gedreig het om sy loopbaan te laat ontspoor.

“Ons het in ’n tydstip gevrees dat hy nie weer sou kon speel nie. Sy bynaam in die span is nou ‘Joy’, want hy speel met soveel genot. Dis ’n fantastiese storie,” sê Dobson.

Intussen het die WP se kaptein, Chris van Zyl, geen twyfel gelaat nie dat sy span met ewe veel motivering as Griekwas gaan opdraf.

“Ons posisie op die puntelys maak dit vir ons ’n ewe groot wedstryd. Ek het volle vertroue in ons span. Die manne weet wat op hulle wag,” sê Van Zyl.

Leyds en Louw se plekke op onderskeidelik heelagter en vaskopstut word deur SP Marais en Carlu Sadie gevul.

Kolisi se terugkeer na die Bok-kamp beteken dat Ernst van Rhyn die nr. 6-trui dra. Salmaan Moerat keer terug na die beginspan op slot en JD Schickerling skuif gevolglik terug flank toe.

Die WP-span is:
SP Marais, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Dan Kriel, Seabelo Senatla, Josh Stander, Justin Phillips, Sikhumbuzo Notshe, JD Schickerling, Ernst van Rhyn, Chris van Zyl (k), Salmaan Moerat, Carlu Sadie, Chad Solomon, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Schalk Erasmus, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, David Meihuizen, Nama Xaba, Paul de Wet, Damian Willemse, Edwill van der Merwe.
 
Meer oor:  Chad Solomon  |  John Dobson  |  Scarra Ntubeni  |  Kimberley  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby  |  Springbokke  |  Streeptruie  |  Haker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.