Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Genoeg biltongrugby, bring die pizza

Dankie tog, oplaas ’n rugbywedstryd met ’n ander geur om na uit te sien.

Die Bulle het Saterdag op Kingspark met ’n sege van 34-22 oor die Haaie verseker hulle wen die SA Reënboogbeker-reeks. Die span speel nou die komende naweek teen Benetton in Treviso, Italië, in die noord-suid-eindstryd. Benetton is onoorwonne in die noordelike Reënboog-reeks.

Die Bulle vier fees in hul Reënboogbeker-oorwinning oor die Haaie Saterdag op Kingspark. Foto: Gallo Images

“Ek dink almal in Suid-Afrika is opgewonde om ’n ander tipe wedstryd te sien. Ons spanne het nou al baie, baie kere teen mekaar gespeel weens (Covid-19)-omstandighede,” het Jake White, die Bulle-breier, ná hul sege gesê.

Sedert Covid-19 rugby verlede jaar in Maart platgetrek het, het geen Suid-Afrikaanse span al teen ’n oorsese teenstander gespeel nie. Alles was derbies.

Eers was daar ’n Superrugby Unlocked-reeks, toe die Curriebeker-reeks, toe ’n voorbereidingsreeks en nou die Reënboog-reeks. Saterdag se wedstryd word dus met groot opwinding afgewag.

Ons het nou ’n skitterende kans om die eerste span te wees wat in die noorde gaan speel en onsself teen (Benetton) te gaan meet.

“Ek het nou vir Sean Everitt (Haaie-afrigter) hier onder gesien en hy het gesê, gaan wen dit vir Suid-Afrika. Die realiteit is dat almal iets anders wil sien.

“Ons het nou ’n skitterende kans om die eerste span te wees wat in die noorde gaan speel en onsself teen (Benetton) te gaan meet. Hulle is die enigste onoorwonne span in die Reënboogbeker-reeks, so dit sal ’n groot uitdaging vir ons wees.”

Die Bulle vlieg Maandagaand – óf via Parys óf via Amsterdam – na Treviso. Terselfdertyd sal ’n Bulle-groep in Suid-Afrika agterbly om vir die begin van die Curriebeker-reeks voor te berei.

Hul eerste wedstryd is Saterdag teen die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld.

“Ons sal sit en besluit wat ons beste groep van 26 spelers is om oor te neem Treviso toe, en dan sal ons die Curriebeker-span kies uit die ouens wat agterbly en uit ons Carltonliga-klubs.

“Ons beplan nou al ’n hele ruk vir die Curriebeker, want ons het ook agt spelers by die SA o.20-span se oefenkamp in Kaapstad, en ons het vier spelers in die Bok-groep.

“Ons het vir Pine Pienaar, wat as ’n tegniese afrigter by ons betrokke is, wat die naweek ’n paar Carltonliga-wedstryde gaan kyk het. Ons sal oukei wees.”

Wat Saterdag se wedstryd betref, sê White dit is ’n kwessie van sending voltooi.

Dit was ’n vreemde wedstryd met ’n spul permutasies – die Haaie moes byvoorbeeld met ’n bonuspunt wen om boaan die SA puntelys te eindig, terwyl die Bulle net ’n bonuspunt nodig gehad het.

Die Bulle was allesbehalwe oordonderend in die eerste helfte, maar het ’n paar spogdrieë in die tweede helfte gedruk om die uitslag te verseël.

Geelkaarte aan Marco van Staden en Trevor Nyakane in die laaste 14 minute het White effens irriteer.

Daar is nog ’n paar goed waaraan ons moet slyp, maar dis lekker as jy wen, want dan noem jy dit afrig. As jy verloor, noem jy dit uitk*k.

“Ek is wel tevrede dat ons met 13 spelers kon verdedig, want daar is baie goeie aanvallende spelers in die Haaie se span. Ek dink hulle het net een drie gedruk toe ons net 13 spelers gehad het. Ons het gewys ons kan druk absorbeer,” sê White.

“Ek sal wel verkies dat ons 15 spelers op die veld hou. Die ervaring van Nizaam Carr en Gio Aplon was ook baie waardevol; hulle kon die jonger ouens kalm hou.

“Daar is nog ’n paar goed waaraan ons moet slyp, maar dis lekker as jy wen, want dan noem jy dit afrig. As jy verloor, noem jy dit uitk*k.”

Meer oor:  Benetton  |  Bulle  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.