Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Georgië slyp teen Kings vir WB-toernooi

Hulle weet nog nie wie hulle nuwe hoofafrigter is nie, maar die Southern Kings weet darem teen watter span hulle hul eerste vriendskaplike wedstryd van die seisoen gaan speel.

Die Kings pak Georgië se nasionale span op Dinsdag 27 Augustus in die Mikheil Meskhi-stadion in Tbilisi.

Zingi Hela (regs), die Kings se spanbestuurder, saam met Demetri Catrakilis, een van die Kings se losskakels. Volgens Hela speel die Kings volgende maand teen Georgië ’n vriendskaplike wedstryd. Foto: Southern Kings

“Georgië sou op daardie dag in ’n Wêreldbeker-opwarmingswedstryd teen Rusland gespeel het, maar die Russe het onttrek en ons was die eerste span wat die Georgiese Rugbyunie toe gekontak het om te hoor of ons beskikbaar is,” sê Zingi Hela, die Kings se spanbestuurder in ’n verklaring.

“Die wedstryd sal vir albei spanne van waarde wees. Vir Georgië is dit goeie voorbereiding vir die WB-toernooi en vir ons vir die Pro14-reeks.

“Ons kon nie vir ’n beter teenstander gevra het nie. Georgië is bekend vir sy goeie skrumwerk en dit sal ’n goeie maatstaf vir ons wees.”

Georgië se eerste wedstryd in die WB-toernooi in Japan is op 23 September teen Wallis.

Australië, Fidji en Uruguay is die ander spanne in dié groep.

Georgië word deur die Nieu-Seeelander Milton Haig, wat voorheen een van die Chiefs se hulpafrigters was, gebrei.

Georgië het vanjaar al met Rusland, Duitsland, België en Roemenië afgereken.

* Intussen moet die Kings nog ’n hoofafrigter in die plek van Deon Davids aanwys.

Die paneel deskundiges wat onderhoude met die top-kandidate vir die pos gevoer het se bevindinge is reeds aan Loyiso Dotwana, die voorsitter van die Kings se raad, gestuur.

Hy sal dit, en die paneel se aanbeveling, nou by die volgende raadsvergadering aan die direksie voorlê voor ’n finale besluit geneem sal word.

Die voormalige Blitsbok Vuyo Zangqa is weer een van die Kings se hulpafrigters. Foto: Gallo Images

Dis onseker wanneer die proses afgehandel sal word.

Davids is op sy beurt nog nie seker wie hy volgende gaan afrig nie.

Hy het aan die webwerf rugbypass.com gesê hy het die afgelope tyd op uitnodiging sekere klubs in die Wes-Kaap besoek.

Daar het hy glo so ’n bietjie met die afrigting gehelp en raad gegee waar hy kon.

Hy het ook onlangs die Springbok-afrigter Rassie Erasmus ’n tydjie lank in Johannesburg “ge-shadow”, maar daar moet nie te veel daarin gelees word nie.

Davids het wel bygevoeg dat hy, ná alles waardeur hy by die Kings is, kans sien vir die werk indien hy ooit wel die Springbok-afrigter sou word.

Vuyo Zangqa het op sy beurt Woensdag in Port Elizabeth by die Kings aangemeld om weer een van die Kings se hulpafrigters te wees.

Zangqa was voorheen ook een van die Kings se hulp-afrigters voor hy verlede seisoen Duitsland se sewesspan gaan afrig het.

Meer oor:  Deon Davids  |  Pro14  |  Kings  |  Georgië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.