Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gerber, Matfield – 2 paaie na rugbysukses

Die pad na die Springboktrui loop nie noodwendig deur die SA Skolespan nie.

Die jong Danie Gerber (regs) word in 1977 deur Lawton Fourie, die president van die Oostelike Povinsie Rugbyunie, voorspoed toegewens voor die Cravenweek. Foto: Maestro of the Midfield

Dit is een ding wat spelers wat nie die uitsoekspan in hul skooljare haal nie, baie goed moet besef.

As jy vir die SA Skolespan gekies word, kan dit jou paadjie boontoe wel makliker maak, maar dis nie die einde van jou rugbyloopbaan as dit nie gebeur nie.

Ter illustrasie kan na die paadjie van twee van die land se grootste rugbylegendes gekyk word.

Danie Gerber, wat vandag nog wêreldwyd as een van die beste senters tot nog toe beskou word, en Victor Matfield, die mees ervare Springbok nóg, het twee drasties verskillende paadjies na die Groen-en-Goud gehad.

Gerber het drie jaar agtereenvolgens (1975 tot 1977) die SA Skolespan gehaal. In 1976 was hy die onder-kaptein en in 1977 die kaptein.

In die drie jaar wat Gerber vir die Oostelike Provinsie Cravenweekrugby gespeel het, was dié span onoorwonne.

Hy was ’n puntemasjien en byna onkeerbaar.

Toe hy in 1977 die SA Skolekaptein was, het dié span op Ellispark teen die SA Universiteite se o.19-span gespeel.

Die studente was grootmond en het vooraf voorspel dat “die seuns van die manne” geskei sou word.

Dit was toe dan ook so. Die SA Skole was maklik met 32-13 baas en Gerber was een van sy span se grootste uitblinkers.

Die volgende jaar het Gerber al sy buiging vir die OP se senior span gemaak en hy het sy debuut vir die Bokke in 1980 teen Suid-Amerika gemaak.

Danie Gerber druk een van sy baie drieë in die Springboktrui. Foto: Argief

Matfield se paadjie het ietwat anders verloop. Hoewel hy ook op skool al duidelik talentvol was, was daar toe ook sogenaamde kenners wat gemeen het hy “staan te veel in die agterlyn rond”.

Victor Matfield in 1995 met die trui waarin hy vir die Transvaalse Bonde gespeel het. Foto: My Reis

Hy het darem die eertydse Verre-Noord se Cravenweekspan in 1995 gehaal en het op slot uitgeblink.

Die SA Skolespan was hom egter nie beskore nie met Jaco Barnard van Noord-Vrystaat, Gerrie Theron van Wes-Transvaal en Chrisjan van der Westhuizen van Noord-Transvaal wat die uitverkorenes was.

Matfield en Morné Engelbrecht van Wes-Transvaal moes met plekke in die Akademie-span tevrede wees.

“Onskuldig en grootoog is ons Kaap toe vir ’n wedstryd tussen die Noordelike Bondespan en die SA Skolespan op Nuweland waar ons net-net met 0-5 verloor het,” onthou Matfield daardie dae in sy biografie, My Reis.

“Ons het een aand uitgegaan om in die Waterfront te gaan fliek en videospeletjies gespeel. Op pad terug na die hotel het ek en Jaco (van der Westhuyzen) voor in die bus gesit.”

Volgens Matfield was hy en die toekomstige Springbok-losskakel besig met “onskuldige seunsdinge” terwyl van die ander ouens agter in die bus “kwaai partytjie” gehou het.

“Ons spanbestuurder, oom Theo Pieterse, het hulle aangespreek, maar hulle het hom gevloek en sleggesê. Ek en Jaco was stomgeslaan. Hoe kon hierdie matriekseuns so baie drink en op ’n ou oom vloek?”

Victor Matfield vier in 2007 die Springbokke se Wêreldbeker-triomf in Parys. Foto: Getty Images

Nodeloos om te sê, die drinkebroers is vandag grootliks vergete as rugbyspelers en Matfield een van die beroemdste spelers ooit om die Groen-en-Goud aan te trek.

Daar is dus ’n paar lesse te leer uit die loopbane van Gerber en Matfield.

Een daarvan is dat ware talent nie onderdruk kan word nie. Dit neem party spelers net ’n bietjie langer om bo uit te kom.

Nog een is dat dit dissipline en harde werk verg om bo uit te kom.

Hoe kwaai jy kan vloek en hoeveel jy kan drink, kan jou dalk ’n held in jou plaaslike kroeg maak, maar nie sommer ’n Springbok-rugbyspeler nie.

Meer oor:  Cravenweek  |  Bokke  |  Victor Matfield
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.