Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gesin dryfkrag agter Bokke se ‘McKenzie’

Vaderskap is Cheslin Kolbe se loodvrye brandstof in sy tenk.

Dís wat hom aanspoor om die soort rugby te speel wat hom ’n groot gunsteling onder ondersteuners van die Springbokke en sy Franse klubspan Toulouse maak.

Cheslin Kolbe. Foto: Gallo Images

“Ek word nou in die oggende wakker met die besef dat ek ’n verantwoordelikheid het om ’n familie te onderhou,” het hy gesê.

“Ek wil die beste vir my dogter (Kylah) en vrou (Layla) gee. Dis wat my aanmoedig. Ek wil graag op en van die veld die beste mens wees wat ek kan wees.

“Ek wil graag ’n goeie voorbeeld vir my familie en baie mense daarbuite wees.”

Ná die teleurstelling en pyn dat hy vir lank nie as groot en goed genoeg vir toetsrugby beskou is nie, dien die Bok-trui as verdere groot dryfkrag vir die 25-jarige boorling van Kraaifontein.

“Ek knyp myself nog letterlik elke dag om seker te maak ek droom nie dat ek vir die Bokke speel nie.

“Ek besef daar is soveel talentvolle spelers by die huis (in Suid-Afrika) wat in my posisie kon wees. Dis nie iets wat ek vanselfsprekend sal aanvaar (om vir die Bokke te speel) nie, aangesien dit nog altyd my droom was.

“Soms bereik jy jou droom en dan laat jy slaplê, maar nie in my geval nie. Spanmaats soos S’bu Nkosi en Makazole Mapimpi spoor my ook aan. Dis gesond vir die span.”

Kolbe, wat 1.70 meter lank is en 80 kg weeg, het sedert Rassie Erasmus hom verlede jaar gekies het in tien toetse gespeel. Hy was in ses van daarvan aan die wenkant, een was gelykop en hy het al vyf toetsdrieë behaal.

Aangesien ek nie die grootste mens is nie, fokus ek baie op my verdediging.

Baie kenners beskou hom as die Damian McKenzie van Suid-Afrikaanse rugby. Hy is ’n vernietigende aanvaller wat oor die vermoë beskik om in die ruimte van ’n telefoonhokkie draaie om teenstander te hardloop.

Hy is ook deeglik bewus van afdelings van sy spel wat hy wil verbeter.

“Aangesien ek nie die grootste mens is nie, fokus ek baie op my verdediging. Jacques Nienaber help my baie as ’n speler. Ek werk hard daaraan.

“Elke speler het iets wat hulle voortdurend wil verbeter, verdediging is myne.”

Die voormalige Blitsbok beskryf ’n gesonde spankultuur as een van die vernaamste redes waarom die Bokke se vyftienmanspan vanjaar momentum voor die Wêreldbeker kon opbou.

“Die kultuur, spanomgewing en energie in die Bok-kamp is werklik iets onbeskryflik. As jy pret het terwyl jy fokus op jou take, begin dinge in plek val. Daar bestaan ’n goeie balans in die span.

“Ons poog weekliks om as ’n span te verbeter. Ons doen die beste moontlik vir mekaar. Die afrigters sit baie moeite in om dinge in plek vir ons te kry. Eindelik moet ons steeds die uitvoering van die planne op die veld regkry.

“Jy moet egter met elke vergadering van ons (Bokke) gefokus wees en bereid wees om iets te leer.

“As jy vir ’n enkele sekonde nie gefokus is nie, kan dit op Saterdae die verskil tussen wen en verloor wees.”

Hy en sy spanmaats besef daar hoë verwagtinge van hulle in Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd teen die All Blacks in Jokohama.

“Ons fokus egter net op ons take en om dit tot die beste van ons vermoë te doen. Ons sal voorbereid wees op Saterdag se uitdaging. Dit gaan groot wees.

“Soms is daar uitslae wat negatiwiteit lok, maar ons weet Suid-Afrika staan agter die Bokke en ondersteun ons al die pad.

“Ons wat bevoorreg is om in die Wêreldbekergroep te wees en die land te verteenwoordig, moet vir daardie mense terug by die huis (in Suid-Afrika) speel.

Kolbe geniet Japan tussendeur al die rugby en wil soos sy spanmaats hul kultuur tydens die Wêreldbeker omhels.

“Die Japanse mense toon altyd respek, dis iets wat vir my uitstaan sedert ons hier aangekom het.

“Ek is gek oor hul noedels en rys. Dis só lekker. Ek wil net meer en meer eet.

“Die Japannese is ook gasvry. Almal is betyds. Alles is in plek. Alles werk. Ek geniet dit hier.”

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.