Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Geskorste WP-lid pak Zelt kaalvuis

’n Geskorste lid van die WP Rugbyunie se uitvoerende raad het die unie se president, Zelt Marais, tromp-op beskuldig van laster en leuens.

Geskors . . . Junaid Moerat. Foto: Die Son

Junaid Moerat sê ook Marais het eensydig opgetree toe hy hom geskors het kort voordat hy as waarnemende uitvoerende hoof van WP Rugby sou oorvat.

Marais het Moerat geskors omdat hy na bewering vertroulike inligting oor ’n beoogde vennootskap tussen die WP en die Franse klubspan Stade Français aan Rapport gegee het.

Moerat het sy stilswye die afgelope week verbreek in ’n verklaring wat aan die WP-klubs en ander belanghebbendes gestuur is.

“Daar moet kennis geneem word dat die uitvoerende komitee nie van die genoemde aanklagte en skorsing geweet het nie en dat die president eensydig opgetree het,” lui die verklaring.

Volgens Moerat het Marais hom laat skors op grond van inligting wat hy van Tony McKeever ontvang het. McKeever is ’n gewese uitvoerende hoof van die Southern Spears en ’n vertroueling van Marais. McKeever het glo teenoor Marais beweer dat Rapport vir Moerat as die bron van die berig onthul het.

In reaksie op dié bewering het Albert Weideman, sportredakteur van Rapport, gister gesê die koerant sal nooit sy bronne aan buitepartye bekend maak nie. “Die beskerming van anonieme bronne is een van die kernbeginsels van die joernalistiek. Ons het nie ons bronne vir die Stade Français-berig aan enigiemand bekend gemaak nie en ons gaan dit ook nie doen nie.”

Moerat sê hy sal hom steeds aan die dissiplinêre prosedures van WPRU onderwerp, maar dit lyk asof die klagte versin is om hom te verhinder om die pos van uitvoerende hoof op te neem.

“Dit is met ’n swaar hart dat ek die verklaring skryf. Ek het probeer om die ongeregtigheid teenoor my met soveel dissipline moontlik te hanteer, maar my stilte word nou beskou as ’n erkenning van skuld of as toestemming vir onwaarhede wat oor my versprei word.

“Daar is ook deur ’n sogenaamde ope brief van die president van die WPRU, wat my bly belaster, gepoog om my naam te beswadder, die rugbypubliek te mislei en my skuldig te bevind sonder om my naam te gebruik.”

Marais word in Moerat se verklaring daarvan beskuldig dat hy belangrike getuienis oor waar die uitlek van inligting kon ontstaan het, nie bekend gemaak het nie. Hy broei glo al weke daaroor.

Moerat beweer van die inligting sluit in dat die konsepmediaverklaring oor die WP se beplande vennootskap met die Franse klubspan deur McKeever opgestel is en dat van die inligting voorkom in Rapport se berig.

“Nie ek, die uitvoerende komitee of die raad het toegang (tot die nuusverklaring) gehad nie. Toe my aanstelling as tussentydse uitvoerende hoof onvermydelik geword het, het hy (Marais) egter ’n beëdigde verklaring onder eed afgelê wat leuens en versinsels blyk te wees.”

Tony McKeever Foto: Argief

Marais het gister aan Rapport gesê die WPRU weet van Moerat se verklaring.

“Die verklaring en die lasterlike bewerings wat daarin gemaak word, is sowel ongelukkig as ondeurdag,” het Marais gesê.

“Daar is hangende tugprosedures teen mnr. Moerat. Ons doen dus ’n beroep op alle partye om die tugprosesse van die unie te respekteer en toe te laat dat hierdie prosesse sy gang gaan.”

Dis onduidelik wanneer Moerat se tugverhore sal plaasvind nadat dit al twee keer uitgestel is.

McKeever het gesê hy is “deurmekaar” ná Moerat se verklaring.

“Waarom sou hy (Moerat) sê dat hy aangestel sou word as uitvoerende hoof – wanneer daar ’n erkende openbare proses is wat tans aan die gang is vir die keuse en aanstelling van ’n uitvoerende hoof?” het McKeever gesê.

Dit is volgens hom waar dat daar ’n konsepmediavrystelling bestaan – tussen homself en Stade Français – in sowel Engels as Frans.

Hulle het ’n paar maande aan die vennootskap gewerk en dit sou wyer strek as net sport en ook samewerking op die gebied van “bilaterale handelstoerisme” insluit.

“Dit is nie ’n spontane gebeurtenis nie – dit is ’n noukeurig ontwerpte strategie wat gedeel is met SF en die voorsitter, Ebrahim Rasool, die president, Zelt Marais, en Gavin Lewis (WP-rugby se bestuurder van bemarking).

“Hierdie gedetailleerde beplanning het die betrokkenheid van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, op ’n vergadering in 2020 ingesluit, asook die Wes-Kaapse LUR van sport, Anroux Marais.

“Dié uitspattige opmerkings van Junaid Moerat is dus desperaat en veral naïef onder die huidige omstandighede.”

Die toekoms van WP Rugby vereis na McKeever se mening samehangende strategiese denke en kliniese uitvoering.

“Daar is geen plek vir klein individualisme en ego’s nie.”

Meer oor:  Zelt Marais  |  Junaid Moerat  |  Laster  |  Leuens  |  Wpru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.