Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oordeel ’n blerts op sege oor Chiefs
Gesoek: Haai-grysstof vir res van reeks

Hulle het dit lank laat lyk of rugby naas algebra die moeilikste ding denkbaar is, maar die Haaie het uiteindelik Saterdag op Kingspark té veel skietgoed vir ’n erg gelapte Chiefs-span gehad. 

Dan du Preez, die Haaie se agtsteman, hou twee Chiefs-verdedigers, Michael Allardice (links) en Tyler Ardron, besig tydens die spanne se Super-stryd in Durban. Foto: Gallo Images

Ná hul sege van 28-24 lyk hul wiskundesom teen Kiwi-teenstanders vanjaar só: Vier gespeel, drie gewen, een weggesmyt. 

Dié sommetjie is nie te versmaai vir ’n Suid-Afrikaanse span teen die konings van wêreldrugby nie.

Die Haaie, wat voor Saterdag reeds met die Blues en Highlanders afgereken het en met een punt teen die Hurricanes verloor het, het sake in Durban nie maklik vir hulself gemaak nie. 

Soos in hul vorige wedstryde teen Kiwi-spanne het die Haaie die spel so vinnig en fisiek as moontlik probeer maak. Die bal het blitsig van hande verwissel in ’n (grootliks geslaagde) poging om vinnig veld te wen en die teenstanders op die agtervoet te plaas.

Die Haaie het die eerste helfte oorheers, maar kon weer nie gulde geleenthede benut om punte aan te teken nie. Die Chiefs het bly vasklou en met die telling op 10-10 gaan rus. 

Die frustrasie in die Haaie se afrigtershokkie moes ná rustyd begin oorkook het. ’n Drie deur Lwazi Mvovo is ongedaan gemaak toe André Esterhuizen ’n bal in Charlie Ngatai, Chiefs-kaptein en -buitesenter, se hande gegooi het vir ’n onderskepdrie. 

Dit was duidelik dat die tuisspan oorheers, maar foute het die besoekers se ligte aangehou. 

Tog was die Chiefs sonder 20 van hul staatmakers eenvoudig té futloos en leierloos om werklik ’n aanspraakmaker op ’n sege te wees. Die Haaie het dit wel met tye nie so laat lyk nie. 

Ná Ngatai se drie het die Chiefs se gô begin taan en die Haaie het meer berekende rugby begin speel en hul kanse begin gebruik. 

’n Drie nadat speeltyd verstreke was deur die vleuel Solomon Alaimalo het toegesien dat die telling die besoekers vlei.

Dit het ook duidelik geblyk dat verskeie van die Haaie se jong Turke nog rugby-intelligensie moet ontwikkel. Dit is grotendeels die rede vir die magdom onbenutte geleenthede. 

Die Du Preez-tweeling, die agtsteman, Dan en die steelkantflank, Jean-Luc, is angswekkende monsters en het weer geskitter, maar dié twee maak hulle gereeld aan gebrekkige dinkwerk op kritieke oomblikke skuldig. 

Dit het verskeie kere gebeur dat die Haaie aanvallende momentum agter hulle het, maar dan forseer Jean-Luc of Dan ’n drukaangee. Die gevolg is altyd dat die bal verlore gaan. 

Hulle pa, die afrigter Robert sr., moet straks ’n plakkaat in hul albei se kamers ophang: Hou die dekselse bal! 

Dit is egter nie net dié twee wat aangeë in kontaksituasies soms forseer nie. Esterhuizen, onder andere, maak hom ook daaraan skuldig.
Nog ’n voorbeeld van gebrekkige rugby-intelligensie by ’n jong Haai, was Curwin Bosch se besluit om self vir die hoekie te gaan terwyl hy vir Mvovo buite hom gehad het. 

Die gevolg: Bosch is ’n meter voor die doellyn uitgeduik en ’n drie het verlore gegaan. 

Dié foute is ook aan oorywerigheid te wyte. Wanneer dit by oorywerigheid kom, is die versagtende omstandighede uiteraard die aanwesigheid van ywer. ’n Span wat probeer om vir skitteroomblikke te sorg, is een wat báie beter daaraan toe is as ’n span wat sy ywer in die kleedkamer agterlaat.

’n Haai wat sy rugbybrein ingespan het, was die skrumskakel, Louis Schreuder. Hy verstaan ruimte en hoe om dit aan te val, soos hy gewys het met sy skoppie wat tot die vroeër genoemde Bosch-amper-drie gelei het.

Die hele voorry van die Haaie, Beast Mtawarira, Akker van der Merwe en Thomas du Toit, se vertonings was van só ’n aard dat Rassie Erasmus, Bok-breier, in die versoeking kan wees om hulle tot sy Bok-voorry te bevorder.

Hulle het die Chiefs flou geskrum, maar dit was hul werk in veral die vastelos wat uitgestaan het. 

Die vleuel Sbu Nkosi het ook geskitter. Ditto die senter Lukhanyo Am.

  • Punte:

Haaie 28 (10): Drieë: Robert du Preez, Lwazi Mvovo, Cameron Wright. Doelskoppe: Du Preez (2). Strafdoele: Du Preez (3). 
Chiefs 24 (10): Drieë: Tyler Ardon, Charlie Ngatai, Solomon Alaimalo. Doelskoppe: Marty McKenzie (3). Strafdoel: McKenzie.

‘Meer geduld en dié span kan titel wen’

“Dit was ondanks alles ’n goeie uitslag vir ons,” het die Haaie se afrigter, Robert du Preez sr., gisteraand gesê nadat sy span met ’n effense gesukkel die Chiefs op Kingspark weggebêre het.

“Ons móés eenvoudig dié een wen om ons veldtog weer op koers te kry ná verlede naweek se nederlaag teen die Bulle.

“Die Chiefs is ’n uiters fisieke span en dit was ’n klipharde stryd. Die spelers wat gister speelkans gekry het in die plek van hul All Blacks, het die geleentheid aangegryp en hulself uitstekend van hul taak gekwyt.

“So, ons het uit die staanspoor geweet dat dit ’n taai kragmeting sou wees, en juis daarom is ek baie tevrede met ons vertoning.

“Daar was egter steeds geleenthede om drieë te druk wat ons nie benut het nie, en dit is ’n probleem waaraan ons daadwerklik aandag moet gee. Dit is myns insiens bloot ’n kwessie van groter geduld wat ons aan die dag moet lê, veral wanneer ons in die opposisie se kwartgebied is.

“Dit is ’n jong span wat deurentyd groei, en die blote feit dat ons geleenthede skep, is bemoedigend. Ek glo steeds dat hierdie span nog groot hoogtes gaan bereik, en die kompetisie kan wen – hetsy vanjaar of volgende jaar.”

Een Haai wat deurentyd sy hart uitgespeel het, en vir ’n tweede agtereenvolgende wedstryd as Speler van die Wedstryd aangewys is, is die woelige Akker van der Merwe.

“Akker was tot dusver eenvoudig uitstekend,” sê Du Preez. En, die feit dat hy slegs 55 of 60 minute in die wedstryd nodig het om met die louere weg te stap, wil gedoen wees.

“Die voorry het as ’n eenheid waardevolle werk verrig, en Akker, Beast Mtawarira en Thomas du Toit het die grondslag gelê vir ’n puik skrumvertoning.”

Die Haaie vertrek môreoggend Buenos Aires toe, waar hulle Vrydag die omgekrapte Jaguares in die Argentynse hoofstad pak. 

“Die Jaguares is ’n volwaardige internasionale span, so dit is soos ’n toets vir ons. Hulle is ’n kwaliteitspan en hul dissipline is nou uitgesorteer.” – Albert Heenop

Meer oor:  Haaie  |  Chiefs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.